Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Daphne James kén kanker. Nie net omdat sy sedert 1995 'n vrywilliger vir Kansa is nie, maar omdat sy dié gevreesde siekte ook al aan haar lyf gevoel het.
Vir haar amper ongekende toewyding aan kankerpasiënte wat sy versorg, wat maar een van haar take vir Kansa is, is sy benoem as 'n Global Hero of Hope.
Sy het hierdie internasionale benoeming vir haar werk as versorger ontvang.
Die toekenning is amptelik aan haar oorhandig toe die komitee van die Garden Route Cansa Relay for Life vandeesweek vir die eerste keer sedert Maart 2020 byeen was.
"Ek is so dankbaar dat ons 'n Aunt Daph as deel van ons span het," het Merle Singh, voorsitter van die bekroonde RFL op Dinsdag, 20 April tydens 'n ontbyt in die Bravo Lounge gesê.
"Aunt Daph, daar is net één van jou soort. Vir wat jy doen, I have no words."
Daphne het ten tye van 'n nominasie, 30 pasiënte gehad waarna sy omgesien het. Nie net doen sy tuisbesoeke en versorging nie, maar sy vergesel pasiënte wanneer hulle vir behandeling moet gaan.
Kyk 'n video hieronder:
Haar mees offervaardige daad is egter om by pasiënte in te trek en hul op hul sterwenspad te begelei.
So was sy al talle male in die verlede die een wat by pasiënte was wanneer hulle die laaste asem uitblaas.
"Ek gaan na hulle toe as hulle op hul laaste is. Daar is mense wat swaar sterf, dan bid en sing ek vir hulle.
"Dit maak hulle rustig," vertel sy. In haar diens nie net aan haar pasiënte nie, maar ook hulle families, help sy op hulle versoek om die liggaam vir die graf voor te berei.
"Ek versorg hulle. As die ondernemers kom is hulle gereed. Dis 'n plesier om dit vir my pasiënte te doen."
Sy beken dat dit nie 'n maklike taak is nie.
"Jy raak so lief vir die pasiënte, dit voel of hulle jou eie familie is. En jy huil nie daar voor hulle geliefdes nie. Jy gaan huil maar by die huis."
Beide haar eie man en seun het sy versorg én verloor aan kanker. Haar man in 2019 en haar seun so onlangs soos drie maande gelede.
Hóm het sy vir 'n jaar lank dag en nag versorg.
"Ek sê baie dankie vir die Here wat my die krag gegee het om hierdie werk te doen."
Minette van Zyl van Kansa, wat onder meer ook Daphne se nominasie hanteer het, het in haar terugvoering gesê dat Kansa finansieel baie swaar trek en dat veral die interim-huis in George ondersteuning nodig het.
Vanweë Covid-19, kon Kansa nie hulle jaarlikse fondsinsamelingsprojekte aanbied nie, wat 'n groot impak op bedryfskoste het.
Minette het die gemeenskap en ook sakelui versoek om Kansa op enige moontlik manier te ondersteun.
Die Garden Route Cansa Relay for Life-komitee saam met hulle Global Hero of Hope, Daphne James (middel, voor).
Vorige artikel: Aunt Daph is 'n "hero"
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'