Update
MOSSELBAAI NUUS - Die branddood van vier slagoffers waaronder 'n ouerpaar van Groot-Brakrivier en hul seun, asook 'n jong seun van Ruiterbos verlede naweek, het gemeenskappe geskok.
Nooddienspersoneel wat op beide tonele betrokke was, is ook nie onaangeraak deur die tragiese gebeure nie, en het vandeesweek beradingsessies ontvang.
Pa beswyk ook
Twee dae nadat die 23-jarige Denay Booysen en haar driejarige seun Damane in 'n huisbrand op Groot-Brakrivier gesterf het, is Damane se pa, die 33-jarige Vincent Olsen, in die George provinsiale hospitaal aan sy brandwonde dood.
Olsen was saam met Booysen in hul houthuis in Irisstraat op Wolwedans, toe 'n brand op Saterdag, 18 November in die woning ontstaan het.
Die Mosselbaai brand- en reddingseenheid en Groot-Brakrivier-polisielede was spoedig op die toneel om ongeveer 01:00 maar kon nie daarin slaag om Booysen en haar seun te red nie.
Polisiebeamptes het Damane se liggaampie onder sy ma aangetref.
Olsen is met 70% brandwonde in die hospitaal opgeneem.
Die oorsaak vir die brand word ondersoek. Volgens Olsen se suster, Shune April (29) het Olsen vroeër die aand 'n masjien waarin aartappels diepgebraai word gebruik.
Begrafnisreëlings is teen die ter perse gaan nog nie getref nie.
Vincent Olsen
Lees meer in Dinsdag se Mossel Bay Home Ads News.
Parkrun-familie treur saam
'n Sesjarige seun, Siyamkela Kumalo het ook Saterdagoggend in 'n huisbrand gesterf tydens 'n onverwante voorval op 'n kleinhoewe in Ruiterbos.
Die voorval het tussen 06:00-07:00 op 18 November plaasgevind. 'n Lid van die gemeenskap het rook uit 'n vertrek in die huis sien borrel waarna die nooddienste gekontak is.
Lede van die Ruiterbos-plaaswag was saam met die nooddienste gou op die toneel om hulp te verleen.
Ten tye van die voorval was die kind se moeder, asook twee ander minderjarige kinders, 'n kleuterseun en 'n tienermeisie in die woning gewees.
Die twee kinders het nie ernstige beserings opgedoen nie. Poging om Siyamkela uit die woning te red het misluk vanweë die intensiteit van die vlamme.
Sy ma, Nozipho het brandwonde opgedoen terwyl sy aan die reddingspoging deelgeneem het.
Sy is in die Life Bay View-hospitaal behandel, maar is reeds ontslaan.
Die kind se vader, Sibusiso en nog twee tienerdogters was glo onderweg om te gaan deelneem aan die Hartenbos-parkrun, waar hy reeds sedert 2015 'n vrywilliger is, ten tye van die voorval.
Sowat 90% van die huis is in puin gelê as gevolg van die brand.
Die hele houthuis het afgebrand.
Die gesin bly tans in 'n werkswinkel op die kleinhoewe wat hulle as 'n tydelike woning ingerig het.
Ita van Rensburg van die Hartenbos-parkrun het bevestig dat die gesin gereelde deelnemers aan die parkrun was.
"Sibusiso, het op 11 November sy 100ste parkrun voltooi. Hy is van ons gereeldste vrywilligers."
Op die Hartenbos-parkrun is meegevoel met die familie betuig: "Mntungwa Mbhulazi, for the past couple of years you and your own have been part of our parkrun family and little Siya's laugh will be missed in the children's play area.
"We embrace you in our hearts and thoughts during these trying times and pray for strength and solace for you all."
'n Deskundige uit Kaapstad het die toneel vandeesweek besoek om verdere ondersoek in te stel na die oorsaak van die brand.
Daar is tot dusver geen aanduiding dat die brand die gevolg van brandstigting is nie. Daar word vermoed dat 'n elektriese kortsluiting moontlik die brand kon veroorsaak het.
'n Saak van geregtike doodsondersoek is geopen en word hanteer deur kst Nelly Manyonta van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
Siyamkela se roudiens is môre, 10:00 op die kleinhoewe op die R328 en Leeukloofpad.
* Lees ook Sibusiso Kumalo se kommentaar oor sy seun se dood hiernaas.
Lees verante artikels:
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN & CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALISTE
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'