Update
HARTENBOS NUUS - Mossel Bay Advertiser het verlede week berig oor 'n beursie wat tydens die skoonmaak van 'n erf in Besemboslaan, Hartenbos Heuwels gevind is. Die eienaar van die beursie is nou opgespoor.
Die werker wat die beursie opgetel het, het dit aan een van die inwoners, Nico Mynhardt, oorhandig wat dit op sy beurt aan ao André Kommer van die K9-eenheid oorhandig het.
In die beursie was 'n bestuurslisensie wat reeds in 2014 verval het en bankkaarte, maar niks kontant nie.
"Ek was skoon verward toe die polisieman in my kantoor instap en sê "hier is jou beursie", want my beursie was in die voertuig buite," vertel Henry Williamson, verkeershoof van Mosselbaai-munisipaliteit.
"So 11 jaar gelede het ek en my vrou wakker geword by ons woonplek in Hartenbos Heuwels en ontdek my beursie, ring en horlosie wat op die bedkassie was, is weg," vertel Williamson. By nadere ondersoek, het hulle gesien dat die slot by die traliehek geknip is, en die binnedeur nie meer gesluit is nie. "Ek kan nie eens onthou of daar kontant in die beursie was nie, maar is verbaas dat die goeie gehalte leer die kaarte binne beskerm het," vertel hy aan Advertiser.
"Die kaarte en lisensie is nou niks werd nie maar ek gaan die beursie hou as 'n aandenking van die inbraak."
Vorige artikel: Beursie na jare in veld gevind
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'