MOSSELBAAI NUUS - Tydens bouwerk in 'n oop stuk veld in Besemboslaan, Hartenbos Heuwels, het een van die werkers 'n lang verlore beursie opgetel.
Die beursie is gevind toe die perseel skoongemaak is en die werker het die beursie aan Nico Mynhardt, wat langs die oop stuk grond woon, oorhandig.
Mynhardt sê in die beursie was 'n bestuurslisensie wat reeds in 2014 verval het en bankkaarte, maar niks kontant nie.
"Ek reken die beursie is iewers gesteel en as daar kontant in was het die dief dit gevat en die beursie in die bosse gegooi", vertel Mynhardt aan Mossel Bay Advertiser.
Hy sê hulle het gereeld probleme hier gehad, omdat die oop stuk veld snags 'n kuierplek vir leeglêers was. Drankbottels en rommel is tydens die skoonmaakaksie verwyder.
"Een aand net na die krag afgegaan het, het hulle een van die bure se koperkrane gesteel," vertel Mynhardt.
Mynhardt het die beursie aan ao André Kommer van die K9-eenheid op Mosselbaai, oorhandig. Tot dusver is die eienaar van die beursie nog nie opgespoor nie. Meneer HJ Williamson kan gerus met die Mosselbaai K9-eenheid kontak maak, of met die Advertiser, om meer inligting te verskaf oor hoe die beursie verlore geraak het.
'Ons bring jou die nuuste Mosselbaai, Tuinroete nuus'