Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Mosselbaai se uitvoerende burgemeester Dirk Kotzé het op Maandag, 28 Maart 'n ontbyt vir sakeleiers, mediaverteenwoordigers en beïnvloeders aangebied.
"Dit is ons strategie om sterk vennootskappe met ons gemeenskap te smee en te handhaaf om die groei en vooruitgang van ons pragtige dorp te bevoordeel. Hierdie munisipaliteit word beskou as die beste en mees finansieel volhoubare plaaslike owerheid in Suid-Afrika.
"Dit is gepaste erkenning vir die enorme harde werk verrig deur die personeel en die raad om ongeëwenaarde dienslewering te verseker," het Kotzé gesê.
FOTOGALERY: Burgemeestersontbyt vir sakelui
Die burgemeester sê kwaliteit-dienslewering en alle projekte deur die munisipaliteit dien om Mosselbaai as 'n voorkeurbestemming vir semigrasie en belegging te bemark.
Belegging
Mosselbaai se beleggingsgradering is A+, met 'n begroting van R1.8 miljard, bestaande uit 'n kapitaalbegroting van R374 miljoen en 'n bedryfsbegroting van R1.4 miljoen. Sommige besnoeiings is steeds nodig vir die kapitale-begroting.
Terwyl die munisipaliteit toelae-befondsing ontvang, word baie van die begroting deur belastings en tariewe gefinansier. Hierdie begroting bevoordeel die gemeenskap, aangesien niks daarvan misbruik word nie. Mosselbaai as dorp se ekonomie van R7,1 miljard en Mosselbaai-munisipaliteit is 'n aansienlike rolspeler.
Van die munisipale begroting gaan 80% vir grootmaataankope – elektrisiteit en water, skulddelging en personeelkoste. Die dorp brei vinnig uit. Om aan diensleweringseise te voldoen, sal die munisipaliteit sy arbeidsmag in die komende jaar moet uitbrei, wat die begroting sal raak.
Terwyl die norm vir personeelbesteding 35% is, is Mosselbaai-munisipaliteit se personeelbesteding slegs 27%. Raadslede sal binnekort alle gemeenskappe besoek om die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan en begroting in groter detail te bespreek.
"'n Jong entrepreneur het sopas Mosselbaai gekies vir 'n groot, nuwe Matriekfees wat vroeg in Desember meer jongmense na Mosselbaai sal lok. Die voorgenome Matriekfees sal gedurende die eerste weke van Desember in 'n veilige omgewing aangebied word. Ons dorp en omgewing is bekend vir adrenaliengedrewe, avontuurlike doendinge.
Dorpsfeeste en geleenthede is bedoel om die ekonomie te stimuleer, tog is daar talle ander aktiwiteite en projekte wat op ekonomiese groei gemik is. Planne is ver gevorderd vir die ontwikkeling van die sogenaamde motorsport Mekka in Mossdustria, waar nywerheidsontwikkeling aangemoedig word; die opgradering van Louis Fourieweg; die Louis Fourie-dorpsontwikkeling tussen Pinnacle Point en Danabaai en 'n sterk fokus op kleinsake-ontwikkeling.
VIDEO: Burgemeestersontbyt vir sakelui - verwelkoming en veiling
VIDEO: Burgemeestersontbyt vir sakelui - toespraak deur burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé
Mosselbaai-munisipaliteit plaas 'n hoë premie op veiligheid. Gedurende die feesseisoen hou alle rolspelers, insluitend die munisipale leierskap, personeel en eksterne belangegroepe, daaglikse seisoenmoniteringsvergaderings om te verseker dat gemeenskapsveiligheid en effektiewe dienslewering voorkeur geniet.
Ambassadeurs
Tydens die ontbyt, is daar 'n beroep gedoen op persone met invloed in jul onderskeie sfere, om Mosselbaai se ambassadeurs te wees.
"Die munisipaliteit vernuwe tans sy korporatiewe beeld. Binnekort sal inwoners meer daarvan sien. Ons nuwe korporatiewe identiteit spreek tot die professionalisering van die organisasie. Ons handelsmerk word intern vernuwe sonder enige koste vir belastingbetalers."
GROEI-strategie
Hierdie Raad volg 'n GROEI-strategie wat, afgesien van ekonomiese ontwikkeling, skerp fokus op maatskaplike opheffing, gemeenskapsveiligheid, 'n gesonde omgewing en effektiewe bestuur. Die strategie is stewig gegrond in diensleweringsuitnemendheid.
Anton Siebert, 'n medestigter van Project Blessing wat jong kinders en troeteldiere ondersteun, het 'n sterk boodskap van gemeenskapsopheffing gelewer.
Burgemeestersfonds
Cobus van Rensburg, die eienaar van die Freaking Fast Waverider wat hoëspoed-adrenalienritte in die baai onderneem, het geborgde items en ervaringe wat oorwegend op toerismegefokus is, opgeveil en meer as R30 000 vir die Burgemeestersfonds só ingesamel.
Die opbrengs sal aangewend word vir verdienstelike projekte deur die Burgemeester se kantoor. Die opbrengs van die Burgemeestersgholfdag, wat in Junie aangebied word, sal ook aangewend word tot voordeel van Mosselbaaiers.
VORIGE ARTIKEL: Mayor discusses economic growth strategy
'Ons bring jou die nuuste Mosselbaai, Tuinroete nuus'