Update
GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die polisie op Groot-Brakrivier is op soek na twee mans wat 'n 75-jarige vrou wreed in haar woning in Voorbrugweg op Groot-Brakrivier aangerand het.
Die slagoffer, wat haar bewussyn verloor het, is vermoedelik reeds op Maandagaand, 23 Julie in haar bed oorval. Sy kon egter eers die volgende dag hulp ontbied nadat sy wakkergeword het en daarin kon slaag om haar vasgebinde hande met 'n skêr los te sny. Die slagoffer het 'n vriendin op Dinsdag, 24 Julie vanaf haar huistelefoon gebel waarna die polisie na die woning ontbied is.
Met die polisie se aankoms by die woning, was slegs 'n venster by die sitkamer oop en al die deure was gesluit. Die polisie het noodgedwonge toegang tot die erg beseerde vrou gekry deur by die venster in te klim. Die slagoffer, wat alleen woon, se gesig was toegeswel met pers en blou kneusmerke en bebloed na die aanranding. Sy het ook kneusplekke aan haar nek gehad waar sy met 'n tou of die koord van 'n selfoon gewurg is.
'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagtes, wat na bewering nie Afrikaans of Engels praat nie, toegang tot die woning verkry het deur by die sitkamervenster in te klim. Die slagoffer is onder meer gewurg en aangerand. Dit is nie bekend of sy geslaap het toe die verdagtes deur die venster geklim het nie. Dit is ook nie bekend hoe lank die aanranding geduur het nie.
Die huis is geplunder en die verdagtes het met onder meer haar selfoon gevlug.
Die huis waarin die voorval plaasgevind het.
Nooddiensbeamptes dra die slagoffer op 'n draagbaar na die ambulans.
Die slagoffer is na die Mosselbaai provinsiale hospitaal geneem en is op Woensdag, 25 Julie na 'n hospitaal in George oorgeplaas. Volgens die polisie woon haar familie in Gauteng en teen druktyd moes verskeie verklarings nog geneem word.
'n Saak van huisroof word ondersoek.
Lees 'n vorige artikel: Great Brak woman severely assaulted
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'