HARTENBOS NUUS - 'n Inwoner van Hartenbos het aan die Mossel Bay Advertiser vertel dat derduisende bloublasies die afgelope klompie maande op die strande uitgespoel en groot ellende veroorsaak het onder swemmers en veral kinders wat in die vlak water speel.
'n Gesin van Engeland het erg deurgeloop en het dringend hulp benodig. Hulle is aangeraai om hulp te soek by Elvis Brew se kiosk digby die strand.
Die vriendelike personeel by die kiosk kon gelukkig verligting bring.
Sowat 'n week later is 'n jong kind ook daar erg gesteek deur bloublasies. Gelukkig was dit oor 'n naweek en die lewensredders, wat aan diens was, kon dadelik hulp verleen.
'n Besorgde Hartenbos inwoner Theo Albrecht, het egter opgemerk die beskikbare noodhulpkissie het maar min aan die verbeelding oorgelaat en die lewensredders het van hul eie persoonlike medikasie gebruik om verligting te bring.
Albrecht het die situasie met die Hartenbos Apteek opgeneem en bespreek en twee volledig toegeruste noodhulpkissies is op Saterdag, 1 April, deur Gerda Visagie van die apteek oorhandig en beskikbaar gemaak.
Een sal deur die lewensredders gebruik word en die ander een sal by die kiosk wees.
Vrywilligers
Volgens Albrecht het die lewensredders aangedui dat hulle vrywilligers is en dat hul gratis en vir die liefde van die saak werk. Hulle is afhanklik van skenkings deur die plaaslike gemeenskap en besighede,
"Dit sal wonderlik wees indien meer inwoners en besighede van Hartenbos betrokke kan raak met die ondersteuning van die Hartenbos lewensredders. Hulle doen uitstekende werk en junior lewensredders en nippers vanaf so jonk as sewe jaar word ook opgelei in noodhulp en lewensredding.
"Hul wil ook graag 'n klubhuis in Hartenbos vestig waar hul kan bymekaarkom, opleiding kan doen en hul toerusting kan stoor. Hul sal dan ook meer sigbaar en bereikbaar wees vir die publiek," het Albrecht gesê.
Daar is verskeie maniere om die Hartenbos lewensredders te help. Skenkings, praktiese hulp of selfs net koeldranke vir die lewensredders op diens op die warm dae sal reeds 'n groot verskil maak.
Ronel Hammond kan op 082 714 9639 gekontak word vir verdere navrae.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’