GROOT BRAKRIVIER NUUS - Die polisie op Groot-Brakrivier ondersoek 'n saak van aanranding nadat 'n 50-jarige inwoner van Bothastrand op Vrydag, 5 November buite 'n restaurant op Groot-Brakrivier aangerand is.
Die slagoffer het die afgelope week aan die Mossel Bay Advertiser gesê sy matriekseun werk as kelner by die restaurant.
"Hy het my om ongeveer 22:45 laat weet hy is klaar gewerk en ek het oudergewoonte in die parkeerterrein voor die restaurant vir hom in my voertuig gewag. Ek het speletjies op my selfoon gespeel terwyl ek gewag het, toe ek vier mans en hulle metgeselle met jong kinders uit die restaurant gesien kom."
Die slagoffer sê dit het gelyk of die volwassenes onder die invloed van alkohol was.
"Hulle het in hul onderskeie voertuie geklim, waarna een met sy bakkie teen my Jeep vasgery het."
Volgens die slagoffer het een van die vroue dadelik na hom gehardloop en versoek dat hulle die skade die volgende dag eers sal bespreek.
"Die man wat die bakkie bestuur het, het uitgeklim en was dadelik aggressief."
Die slagoffer het omgedraai en na sy voertuig gestap, waarna hy na bewering van agter af geslaan is.
"Ek het geval en my knie baie ernstig beseer. Die ander drie mans het ook ingespring en my geskop en geslaan. Ek het my seun geroep en hy en nog 'n kelner het my probeer help. Die mans het my seun ook begin slaan."
Hy sê hy en sy seun het in die voertuig gespring en na die plaaslike polisiestasie gery, waar hy 'n saak van aanranding teen die verdagtes aanhangig gemaak het.
Nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die polisie het die voorval bevestig en sê die saak word ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'