Update
MOSSELBAAI NUUS - 'n Sestigjarige man van Heiderand op Mosselbaai is op die eerste dag van *Nasionale Kinderbeskermingsweek, op Maandag 28 Mei, in die Mosselbaai-streekhof tronk toe gestuur oor hy 'n agtjarige meisie betas het. Die beskuldigde se identiteit is aan die Mossel Bay Advertiser bekend maar word weerhou om die identiteit van die slagoffer te beskerm. Die beskuldigde se dogter was ten tye van die voorval in 'n verhouding met die slagoffer se pa.
Die beskuldigde het 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en skuldig gepleit op 'n aanklag van seksuele aanranding. Volgens die polisie het die voorval in 2017 plaasgevind terwyl die meisie op die beskuldigde se skoot gesit het.
Streeklanddros Francis Makhamandela het tydens haar vonnisoplegging gesê dit is kommerwekkend dat die beskuldigde deurgaans volgehou het dat hy nie die slagoffer gepenetreer het nie, asof dit dus die erns van die misdryf verminder. "Die beskuldigde het nie sy volle samewerking gegee nie en het die voorval probeer afmaak as minder ernstig omdat hy slegs aan die slagoffer se private dele gevat het, en nie 'sy vinger in haar private dele gesit het nie'. Dit blyk daar is 'n persepsie dat omdat u nie u vinger gebruik het nie, die misdaad nie so ernstig is nie."
Geen rede of berou
Makhamandela het ook gesê die beskuldigde kon nie aan die hof 'n rede vir sy optrede gee nie. "Die beskuldigde het geen berou vir sy dade getoon nie."
"Die beskuldigde is 60 jaar oud en het 'n verpligting gehad om die kind te beskerm. Die hoeveelheid sake van seksuele oortredings waar kinders die slagoffers is en wat aangemeld word, skep 'n verwagting by die gemeenskap dat die hof moet optree."
Makhamandela het gesê dit is die hof se plig tydens vonnisoplegging om die beskuldigde te straf, maar om ook na die omstandighede te kyk en om waar moontlik, die beskuldigde die geleentheid te gee om te rehabiliteer en om programme te volg om sodoende as mens te verbeter.
Ondersoekbeampte in die saak, ao Alistair Rezant van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe staan buite die hof.
Makhamandela het aan die beskuldigde gesê die seksuele aanranding het plaasgevind terwyl sy vrou in die omgewing was. "Hoekom vat u aan die kind as u aan u vrou kon vat." Die beskuldigde is gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf en sy naam sal gevoeg word in die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders. Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
* Kinderbeskermingsweek word jaarliks in Suid-Afrika herdenk om bewusmaking rakende kinderregte te kweek.
Lees 'n vorige artikel: Oupa tronk toe oor hy kind betas
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'