Update
MOSSELBAAI NUUS - Twee mans het op Dinsdag, 7 Augustus vlugtig in die hof op Groot-Brakrivier verskyn in verband met die aanval op 'n bejaarde vrou. Die slagoffer is twee weke gelede in haar huis op die dorp wreed aangerand.
Die polisie is eers 'n dag na die voorval na die toneel ontbied, nadat die 75-jarige slagoffer, wat haar bewussyn verloor het, wakker geword het en daarin kon slaag om 'n vriendin te bel. Die verdagtes het glo toegang tot die vrou se huis deur die sitkamervenster gekry en het die slagoffer in haar bed aangeval en vasgebind, voordat sy met 'n tou gewurg is.
Polisiewoordvoerder, sers Chantel Marais sê die polisie het 'n klopjag by die twee verdagtes, 'n 30-jarige en 50-jarige man se woning op 'n Fraaiuitsig-plaas uitgevoer en op verskeie soorte dwelms beslag gelê. Dagga, mandrax en tik is tydens die soektog gevind.
Die polisie het ook sekere van die slagoffer se besittings in die huis gevind en het die verdagtes by die polisiestasie aangehou op dwelmverwante aanklagte totdat hulle die mans ook met die huisroof suksesvol kon verbind.
Sersant Marais sê die polisie doen 'n beroep op inwoners om behulpsaam te wees met die opspoor van onder meer 'n goud-oorgeblaaste eetstel met 'n roosmotief op die onderkant van elke stuk, asook 'n goue armband met ivoorinsetsels wat tydens die huisroof gesteel is.
Die bejaarde inwoner van Groot-Brakrivier is in hierdie huis aangeval.
Die verdagtes bly in aanhouding en verskyn weer op 24 September in die hof. Enigeen met inligting word versoek om die ondersoekbeampte in die saak, sers Ferdie Nel te kontak (044 620 2206).
Die slagoffer word steeds in 'n hospitaal op Mosselbaai vir haar beserings behandel. Die familie was teen die ter perse gaan steeds te geskok om met die media oor die voorval te praat.
Lees 'n vorige artikel hier: Bejaarde wreed aangerand
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'