MOSSELBAAI NUUS - In Julie vanjaar het die bestuurder van die ACVV Seebries-tehuise, Ons Huis en Onse Rus op Mosselbaai se grootse vrees waar geword.
Mosselbaaiers bevind hul midde van die Covid-19 storm en wat is nou ‘n sagter teiken vir dié ongenaakbare virus as 33 verswakte, bejaarde inwoners, almal saam in een ruimte?
Op dié betrokke dag raak Amanda Prinsloo en haar personeel bewus van ‘n inwoner wat Covid-19-simptome toon.
Die vroulike inwoner word in ‘n Mosselbaaise hospitaal opgeneem en vir Covid-19 getoets. Nie lank daarna nie bel die hospitaal Amanda met die uitslag. Dis positief.
Sy onthou dié oomblik nog soos gister en beskryf dit as die ergste oomblik in haar lewe.
Mossel Bay Advertiser-joernalis, Louise Karsten het met Amanda gesels na al 12 inwoners en vier werknemers van die virus herstel het.
Vertel my van die oomblik toe jy weet Covid-19 is in jul tehuis?
Ek voel verantwoordelik vir elke inwoner en werknemer se gesondheid en welstand. Gelukkig was die situasie in ons aksiekomitee bespreek, asook hoe ons dit sou hanteer indien daar Covid-19 sou uitbreek. Ek het my geregistreerde verpleegkundige ingeroep en die situasie aan haar verduidelik en ons het onmiddellik ons plan van aksie toegepas. Suster Siebert het dit aan die personeel oorgedra. Ek het met sr Pedro Meyer by die departement gesondheid gepraat en gevra dat al my inwoners, sowel as my personeel getoets moet word. Dit was onmiddellik gereël vir die volgende dag.
Twaalf inwoners en vier werknemers se toetsuitslae is toe positief. Wat het deur jou gedagtes gegaan?
Dit het gevoel of my lewe uitmekaar val. Ek het elke familielid persoonlik gebel en verwittig van die stand van sake. Na al die oproepe het ons ‘n e-pos uitgestuur aan die verwante en alles daarin saamgevat. Hulle was ondersteunend en nie een was krities nie. Die reëlings rondom isolasie is onmiddellik ingestel en ons het die personeel gevra wie bereid sou wees om in die Covid-saal te werk. Ons het ‘n maatskappy gekry om die kamers van die positiewe inwoners te ontsmet. Dit was ‘n groot proses om die inwoners uit hulle kamers te kry en in ander kamers te plaas. Ek sou nie deur dit alles kon kom sonder die ondersteuning van sr Siebert en die personeel nie. Die moeilikste vir my was die gevoel dat ek alle protokol gevolg het en dat dit steeds in die tehuis ingekom het. Jy voel jy het almal gefaal, alles probeer en nog steeds gefaal.
Jy moes seker baie gespanne gevoel het. Hoe het jy jou personeel en die familie van die inwoners gerus gestel?
Ek was geweldig gespanne in die tyd en net my man se woorde: dat ek nie God is nie en net my beste kan gee, is wat my deurgedra het, en natuurlik al die gebede vir ons almal. Ons het met families kontak behou wie se ouers positief getoets het en sodra daar ‘n verandering was, al was dit slegs ‘n hoes, was die mense persoonlik gekontak. Die personeel wat positief getoets het, was ons ook mee in kontak om hulle te bemoedig. Ek het die grootste agting vir die personeel wat daagliks opgedaag het vir werk en voortgegaan het om ‘n diens te lewer al was hulle bang. Te midde van ‘n pandemie het hulle opgedaag en hulle beste gegee.
Julle het toe ‘n Covid-19-saal op die perseel gekry. Wat het deur jou gedagtes gegaan en hoe dit gevoel het om te moet wag, want ons weet dat bejaarde mense in die hoë risikogroep val.
Ek was baie bang. Enigeen wat my ken, weet dat ek baie lief vir my inwoners is. Hulle is my passie en my liefde. Hulle was in ‘n hoë risiko en gebed het my staande gehou. Ek glo gebed is die rede dat hulle almal uit die Covid-saal gekom het.
Wie het jou ondersteun?
Ek het die volle ondersteuning van die familielede, personeel en my beheerraad gehad. Ek wil almal uit die diepte van my hart bedank. Die kerke wat my gekontak het wat vir ons bid, die families wat boodskappies gestuur het om te sê hulle bid vir ons, my man, my familie, elke persoon wat op sy/haar knie gegaan en saam gebid het, baie dankie.
Hoe het jy gevoel toe jy gesien het dat die bejaardes begin aansterk? Daar is soveel ellendige stories, ánder stories, as hierdie mooi een?
Dankbaarheid teenoor my Skepper, teenoor die personeel. Toe ons dokter in die Covid-saal ingaan en elke inwoner ondersoek, en uitkom en sê hy is verbaas oor hoe goed hulle lyk, het ek geweet ons kan nou net vorentoe kyk. God se genade is onbeskryflik groot.
Hoe voel jy nadese en is almal nog gesond?
Covid-19 het vrees kom saai, en nadese het ek besluit dat God ‘n God van liefde en vrede is, nie ‘n God van vrees nie. Satan gaan nie ons geluk kom steel nie, dus spreek ek Sy vrede daagliks oor die tehuise. Een van ons Covid-19 positiewe inwoners wat herstel het, is in die tussentyd na ‘n beroerte oorlede. Dit was baie hartseer vir ons en vir haar familie, maar hulle het hulle dank en waardering uitgespreek vir die versorging wat sy by ons ontvang het.
Amanda Prinsloo
Dear reader, As your local news provider, we have the duty of keeping you factually informed on Covid-19 developments. As you may have noticed, mis- and disinformation (also known as “fake news”) is circulating online. Group Editors (publications and online platforms) is determined to filter through the masses of information doing the rounds and to separate truth from untruth in order to keep you adequately informed. Local newsrooms follow a strict pre-publication fact-checking protocol. A national task team has been established to assist in bringing you credible news reports on Covid-19.
Verwante artikel: Bejaardes wat positief toets sterk goed aan
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'