MOSSELBAAI NUUS - Elf jongmense het met die voortvarendheid van die jeug 'n uitdaging vir hulself gestel na aanleiding van die Top Gear-program en só het die Toetertoe Trophy gestalte gekry.
Hulle het in April verlede jaar oor 'n drankie of wat besluit om die uitdaging 'n werklikheid te maak en begin soek na karre wat hulle vir onder R20 000 kon koop, kon regmaak en padwaardig en gelisensieerd kry.
Hulle wou aanvanklik 'n kombi koop, maar dié was in stukke.
Die Toyota Cressida is sommer vinnig aangeskaf toe hulle by 'n bekende hoender wegneemplek in Vanderbijlpark gesit en die winskoop op Facebook Marketplace gesien het. So gesê, so gedaan!
'n Rukkie later was die kooptransaksie beklink en hulle is met die Cressida op 'n sleepwa na een van die ouers se plase toe waar daar aan die voertuig gewerk is en op allerhande maniere uitgetoets is.
Soveel só dat hulle van voor af die enjin moes oorbou en talle onderdele moes vervang. Die storie van die Opel Kadett word deur twee van die jongmanne vertel in die video's wat 'n baie groot deel van hulle verhaal vertel.
Klik hier vir video's: 11 jongmense, 3 ou tjorre, en die toetertoe trophy
Sover lyk dit asof Rika Lubbe se Ford Laser van die Rammelkas Kalante-span die minste probleme gee.
Spesiale hoedjies is vir die drie spanne gemaak, genaamd die President-span, die Poskantoor Dames en die Rammelkas Kalante.
Die ander twee spanne is die Presidentspan en die Poskantoor Dames. Hoe hulle by die name uitgekom het, is 'n storie vir 'n ander keer. Die Toetertoe-toergroep het Maandag, 26 Desember uit die Kaap vertrek nadat hulle voor en tydens Kersfees by familie in Mosselbaai en Durbanville oorgebly het. Die plan was om Clanwilliam toe te ry, maar iewers langs die pad het van die spanlede besluit hulle wil die Weskus bekyk.
Die laaste wat ons verneem het, is dat dit vrekwarm is en die motors beskik natuurlik nie oor lugverkoeling nie, behalwe as jy die gate in die vloer van die ou karre en die vensters wat nie kan toedraai nie, in ag neem. Sterkte julle klomp!
Ons vertel volgende week hoe die avontuur verder verloop het en wie op die ou einde die Toetertoe-trofeewenners was.
Die Cressida van die President-span. Dit is nog duister of daar na 'n vorige of moontlik toekomstige president verwys word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'