Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Die aanloop tot die plaaslike verkiesing vroeër vandeesweek op 1 November was, aldus burgemeesterskandidaat vir die Demokratiese Alliansie, Dirk Kotzé, nie maklik nie. Kotzé het op Woensdag, 3 November met sy nuutverkose span vergader.
Jaco Londt, provinsiale voorsitter het die span gelukgewens met hulle prestasie ten aanhore van lede van die DA se federale raad, met wie hy telefonies ten tye van die byeenkoms in kontak was.
Londt het het gesê dat hy ongeveer 'n jaar en 'n half gelede aan die span die uitdaging gestel het om te mik vir 62% van die stemme in die munisipale verkiesing. Die uitslag van egter 66,24% vir die DA, is die hoogste stempersentasie in vanjaar se munisipale verkiesing in die guns van dié party landwyd.
VIDEO'S: Groot vreugde in DA kamp oor Mosselbaai-uitslag
Groot vreugde in DA kamp oor Mosselbaai-uitslag (vollengte video):
Regeerkundige gesels oor kompleksiteit van munisipale verkiesing
Voorbeeld
"Deel van die teikens wat gestel is, is dat die span 'n voorbeeld moes stel van hoe 'n verkiesingsveldtog behoort te lyk. Die Mosselbaai-span se veldtog was sonder tierlantyntjies. Hulle het gefokus en gewerk," het Londt uitgebrei.
Kotzé het genoem dat die veldtog gebaseer was op die suksesse van die DA-beheerde munisipaliteit se vorige termyn.
"Ek wil kiesers om verskoning vra, omdat daar mense is wat wel gesê het 'julle brag net', maar ons hét baie suksesse gehad. Ons bedank die administrasie, want hoewel ons die politieke leierskap bied, oorsig doen en strategiese rigting bepaal, doen hulle uitstekende werk."
Kotzé het sy nuutverkose span herinner aan die massiewe verantwoordelikheid wat nou op hulle skouers rus. "Ons is trots, maar besef daar is enorme druk. Ons het hard gewerk, maar ons gaan elke stem opnuut moet verdien. Die kompetisie is sterk daarbuite en dit is inderdaad wat goeie demokrasie beteken."
Mandaat
Kotzé het sy span bedank dat hulle ruggraat gewys het te midde 'n taai stryd waarin persoonlike aanvalle die afgelope weke 'n struikelblok kon wees.
"Ons het 'n skoon verkiesingsveldtog gehad en ek glo die kiesers het ons beloon daarvoor dat ons nie modder gegooi het of terugbaklei het nie."
Kotzé het kiesers bedank dat hulle te midde groot uitdagings geduldig by stemlokale gewag het om hulle stem uit te bring. Hy het gesê dat verskeie kwessies met die Onafhanklike Verkiesingskommissie opgeneem sal word.
"Die feit dat kiesers ure geduldig in rye gestaan het om te stem, bewys dat hulle aan ons 'n mandaat gegee het. Sonder politieke stabiliteit kan ons niks doen nie."
Kotzé het gesê dat die kiesers deur hulle stem aan die DA toe te vertrou 'n keuse vir diversiteit en dienslewering gemaak het.
Diversiteit
In 'n gesprek op verkiesingsdag met prof Erwin Schwella, kenner in regeerkunde aan die Mossel Bay Advertiser gesê dat die DA die enigste party is wat die ware diversiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing weerspieël. Schwella het ook gesê dat dit die rede is waarom dit soms, ten spyte van effektiewe bestuur op byvoorbeeld plaaslike regeringsvlak, 'n uitdaging is om die party self te bestuur.
Kotzé het Woensdag met trots verwys na nie net die diversiteit nie, maar ook die diepte van die nuwe span.
"Die nuwe kandidate verteenwoordig elke gemeenskap in ons dorp en ons gaan hierdie diversiteit tot voordeel van die gemeenskap gebruik."
Wat kundigheid betref, het Kotzé gesê dat die span bykans alle sektore insluit onder meer onderwys, veiligheid, sport, media, beplanning, sake en dies meer.
Meer toeganklik
Op 10 November, met die eerste raadsvergadering in die nuwe termyn, sal 'n nuwe burgemeesterskomitee onder meer gekies word. Kotzé het aan sy span gesê, dat hoewel nuwe poste gevul sal word, die oogmerk op stabiliteit sal bly.
"Ons gaan mekaar verantwoordbaar hou en fokus op stabiliteit. Dis hoekom kiesers ons die mandaat gegee het."
Kotzé het onderneem om meer toeganklik aan die publiek te wees.
"Ons gaan almal houe vat, maar the buck stops by die burgemeester." Hy het veral verwys na diensleweringsklagtes wat soms vereis dat persoonlike besoek afgelê moet word om die ware uitdagings binne die gemeenskap te verstaan.
Kotzé het hom ook daartoe verbind om 'n oop kommunikasiekanaal met die gemeenskap te dryf deur middel van 'n persoonlike sosialemediablad, asook die munisipale platforms wat reeds in gebruik is.
Ten slotte het Kotzé geloofsorganisasies bedank vir hulle deurlopende ondersteuning.
Raadslede
In die plaaslike raad het die DA 19 setels gewen. Die raadslede is Dirk Kotzé, Venolea Fortuin, Thabo Mvumvu, Niklaas Booisen, Marulyn Kannemeyer, Cliffie Bayman, Anco Barker, Joey Bavuma, Rethabile Sethuntsha, Annie Janse van Rensburg, Anton Dellemijn, Mark Furness, Stephan Botha, Lodewyk Coetzee, Erica Meyer, Leon van Dyk, Nickey le Roux, Rosina Ruiters en Donovan Claassen. Petru Terblanche is die verteenwoordiger in die Tuinroete-distriksmunisipaliteit.
Eileen Swanepoel en haar ouers, Pieter en Lientjie het die lang ry by die stadsaal teen skemertyd op stemdag aangedurf.
Kiesers het nie vir lang rye geskrik op stemdag nie en so aan die DA 'n volstrekte meerderheid besorg. Foto: Elaine van der Toorn
VORIGE ARTIKEL: Groot vreugde in DA-kamp oor Mosselbaai-uitslag
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'