TUINROETE NUUS - Die Tuinroete-distrik se Covid-19-inentingprogram bly op dreef met gemiddeld 2 630 persone wat per dag ingeënt word, volgens Nadia Ferreira, gesondheidswoordvoerder vir die distrik.
Ferreira het gesê die distrik is stadig maar seker besig om nader te kom aan sy doelwit om 70% van mense bo 50 jaar ten volle in te ent en 70% van die groep tussen 18 en 49 jaar ten minste een dosis te gee.
"Die distrik het tot dusver 57% van mense ouer as 50 jaar ten volle ingeënt en moet nog 59 652 dosisse toedien in hierdie ouderdomsgroep om die doelwit te bereik. In die ouderdomsgroep 18 tot 49 is 37% gedeeltelik ingeënt en moet 193 968 eerste dosisse nog toegedien word om 70% gedeeltelik in te ent."
'n Analise van sterftes in die Wes-Kaap gedurende 'n periode van 12 weke het getoon dat 30% van alle Covid-gevalle, 60% van hospitaaltoelatings en 83% van sterftes binne die 50-plus ouderdomsgroep val.
Volgens dr. Keith Cloete, hoof van die departement, is die kans op ernstige Covid 7,5 keer hoër in mense bo 50 as die risiko in die 20 tot 49 jaar ouderdomsgroep.
'n Vierde vlaag Covid-19-infeksies word teen die einde van die jaar verwag en Ferreira het mense aangemoedig om teen 20 Oktober vir hul eerste Pfizer-dosis te gaan sodat hulle hul tweede inenting voor die feesseisoen kan kry.
"So kan jy met meer gemoedsrus die Kersgety ingaan. Die meeste mense sien uit na 'n lekker Desembervakansie en ons kan nie net op 'n gedeelte van die samelewing staatmaak om dit vir almal veiliger te maak nie. Dit is elkeen se verantwoordelikheid om sy bydrae te lewer en ingeënt te word."
Inentingspanne reik uit
Ferreira het gesê in gebiede waar registrasie laag is, soos Thembalethu (24,68% geregistreer volgens die Wes-Kaapse inentingsinligtingsbord), word baie gedoen op plaaslike vlak deur verskillende rolspelers om mense aan te moedig om ingeënt te word.
"Inentingspanne doen uitreike in die gemeenskap op dae wanneer daar min mense kom vir inentings. Ons probeer sover moontlik mense bereik vir wie dit moeilik is om self kliniek toe te kom vir hulle inenting," het Ferreira gesê.
Op Woensdae bly die Thembalethu-kliniek oop tot 19:00.
Sy het gesê die departement het voldoende entstowwe om alle inwoners in te ent en hulle probeer om sover moontlik enstowwe voor die vervaldatum te gebruik. "Entstowwe wat verby die vervaldatum is word nie gebruik nie."
Inenting van 50-plussers is belangrik in die lig van 'n analise van sterftes in die Wes-Kaap (gedurende 'n 12 weke periode) wat getoon het dat 30% van alle Covid-gevalle, 60% van hospitaaltoelatings en 83% van sterftes binne die 50-plus ouderdomsgroep val.
Nie nodig om te registreer
Mense hoef nie vooraf te registreer nie. 'n Persoon kan net na hul naaste inentingsperseel gaan waar hulle bygestaan sal word met registrasie voordat hulle ingeënt word. Bel 086 014 2142 vir inligting oor inentingspersele.
Tuinroete-gevalle
Volgens die Covid-19-inligtingsbord van die Wes-Kaap, het die Tuinroete 502 aktiewe gevalle gehad soos op Dinsdag 12 Oktober (George 151, Oudtshoorn 107, Mosselbaai 71, Bitou 60, Knysna 54, Hessequa 50 en Kannaland 9). Dit is 'n verdere afname van bykans 200 aktiewe gevalle vergeleke met 'n week gelede.
Ferreira het gesê druk in die Covid-sale en intensiewesorgeenheid van die George-streekhospitaal neem steeds af. Daar was op Dinsdag 12 Oktober 14 Covid-pasiënte in die hospitaal vergeleke met 28 'n week gelede. Vier van die pasiënte was in intensiewesorg waarvan een op 'n ventilator was. Daar is tans 89 aktiewe gevalle per 100 000 van die bevolking.
Toeskouers by sportgeleenthede
Die wysiging aan die Rampbestuurswet ten opsigte van sportgeleenthede wat op 10 Oktober gepubliseer is, laat onder vlak 1-inperkings weer toeskouers by sportgeleenthede toe - maksimum 750 persone by 'n binnenshuise sportfasiliteit en maksimum 2 000 by buitelugsportfasiliteite.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'