TUINROETE NUUS - Aangemelde Covid-19-gevalle in die Tuinroete neem steeds af en het Dinsdag 2 November op 'n totaal van 172 (George 65, Oudtshoorn 36, Knysna 27, Mosselbaai 23, Bitou 11, Hessequa 9 en Kannaland 1) gestaan.
Volgens die Wes-Kaapse regering se inligtingsbord vir Covid-inentings, is 44,39% van die distrik se inwoners vir inenting geregistreer. In George is 56,2% van die bevolking geregistreer, wat laag is vergeleke met buurdorpe Oudtshoorn (82,5%) en Mosselbaai (78,3%). In Knysna is net meer as 61% mense geregistreer.
Meer swanger vroue met Covid by hospitaal
Die distrikswoordvoerder vir gesondheid, Nadia Ferreira, het inwoners van die distrik aangemoedig om hulle te laat inent, veral ook swanger vroue.
Sy sê die George-hospitaal het sedert Maart verlede jaar 'n toename ervaar in die aantal swanger vroue met Covid-19-longontsteking.
Volgens dr. Carl Firmin, hoof van die eenheid vir verloskunde en ginekologie by die hospitaal, dui statistieke daarop dat Covid-19 gevaarliker is in swanger vroue, veral nader aan die einde van hul swangerskap.
"Swanger vroue wat ouer is en lewe met hoë bloeddruk, diabetes, TB of onbehandelde MIV het veral 'n hoë risiko. Volgens die Royal College of Obstetricians and Gynaecologists in die Verenigde Koninkryk, is daar 'n hoër insidensie van stilgeboortes en vroeggebore babas in Covid-19 positiewe vroue. Die entstof beskerm jou, jou ongebore baba, jou familie en jou gemeenskap van die nagevolge van die virus, so ons moedig mense aan om hulle te laat inent."
Oral in die wêreld ontvang swanger vroue en dié wat borsvoed die Covid-19-entstof. Volgens Firmin kan 'n swanger vrou die entstof op enige stadium van haar swangerskap kry.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'