MOSSELBAAI NUUS - Herbertsdalers is afhanklik van water uit boorgate en moet ingevolge 'n kennisgewing in die staatskoerant met onmiddellike effek dringend water bespaar.
Tydens 'n onlangse vergadering van die Herbertsdale-boerevereniging het die munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, landbouers toegespreek oor die dringende noodsaak dat alle verbruikers in die Herbertsdale, Buisplaas en omliggende areas water moet bespaar en veral moet toesien dat watervermorsing weens lekplekke in pypleidings en by krane nie voorkom nie.
'n Waterbeperking van 40% op dorpsverbruikers, en 60% op landbouverbruikers is ingestel. Boonop moet elektroniese metingstoestelle by boorgate geïnstalleer word om verbruik te moniteer.
Sommige van die landbouers het gevra watter maatreëls ingestel word om die water in die Gouritzrivier op te vang voordat dit in die see uitloop, veral in die lig van die nuwe dorpsontwikkeling en die verhoogde vraag na skoon drinkwater wat dit noodwendigerwys meebring.
Die landbouers is daarop gewys dat die bou van damme nie 'n munisipale funksie is nie, maar dat die munisipale bestuurder alles in sy vermoë sal doen om die waternood onder die relevante departemente se aandag te bring.
"Dit is eintlik ironies om oor waternood met die mense van Herbertsdale te moet praat terwyl die res van die groter Mosselbaai nie gebuk gaan onder 'n waterskaarste nie," het adv Giliomee bygevoeg.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'