Gallery Sponsored Content
SAKENUUS - Maak jou kalender gereed vir een van the Suid-Kaap se besondere kulturele belewenisse!
Hessequa Harmonie – Die klein fees met die groot hart, vier vanjaar sy negende verjaardag vanaf 22 tot 26 September en bring ’n indrukwekkende program van musiek, woordkuns, teater, kuns, stories, leefstyl en geskiedenis na Heidelberg.
Met sy tema van liefde, medemenslikheid, wysheid en eenheid beloof die fees iets vir elke smaak – van groot musikale produksies en bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars tot intieme gesprekke en unieke ervarings.
’n Program vol hoogtepunte: Van groot name tot besondere plaaslike ervarings
Die fees skop Dinsdag 22 September af met ’n Landbou-ontbyt by Skeerhok Padstal, gevolg deur die klassieke Bulgarian Brunch by Proeviand. Die aand bied die Spiritual Songs-openingskonsert in die Stadsaal, met Niël Rademan, Paulina Malefane, Miroslav Chakaryan, Susan Mouton, Elna van der Merwe en die RUK-koor.
Die aand kan afgesluit word met kaas en wyn in die VRL Kuierkamer.
Bettie Kemp
Woensdag 23 September begin met Scheepers en Skrywers, waar Riana Scheepers en PJO Jonker oor Die Onsigbare gesels. Daarna volg Van Holland tot Heidelberg met die NorthSouth Duo, TaMiem van Swellendam met Bettie Kemp, ’n gratis Dagmark/Basaar, die ATKV Galakonsert en ’n gratis Nagmark/Basaar.
Donderdag 24 September bring nóg ’n dag vol kultuur, met gesprekke oor Adam Small – 90 jaar, die Bobotie en Pinotage-kombinasie, Dean Balie se Adam Small – die viering van ’n vol lewe, asook Happies & Bierproe. Die aand wag een van die fees se groot nuwighede: 3 Klaviere – Mozart, Movies en Maestros, met Elna van der Merwe, José Dias en Mario Nell. Drie vleuelklaviere op ’n klein plattelandse verhoog beloof ’n belewenis wat nie gemis moet word nie.
Dean Balie
Vrydag 25 September is daar weer Scheepers en Skrywers, Brahms en Blomme, Lee-Ann van Rooi se Oulap se Rooi, Happies & Wynproe en dan ’n groot aand in die Stadsaal wanneer André Schwartz Any Dream Will Do: My pad met Webber aanbied – ’n musikale reis deur Andrew Lloyd Webber se geliefde musiekblyspele.
Lee-Ann van Rooi
Die fees eindig Saterdag 26 September op ’n hoogtepunt by Dasjesdrift met Scheepers en Skrywers saam met Chanette Paul, Vivaldi en die Vondeling met Lynelle Kenned, Johanna Roos en Mario Nell, en Rocco de Villiers, wat sy kenmerkende kombinasie van nostalgiese en moderne musiek aanbied én sy splinternuwe boek bekendstel.
Rocco de Villiers
Heidelberg se geskiedenis word deel van die fees
Die onlangs opgeknapte Congregational Kerk word vanjaar vir die eerste keer as feeslokaal gebruik.
Hierdie historiese, intieme ruimte bied drie besonderse aanbiedings: TaMiem van Swellendam met Bettie Kemp op Woensdag, Adam Small – die viering van ’n vol lewe met Dean Balie op Donderdag en Oulap se Rooi met Lee-Ann van Rooi op Vrydag.
Daar is ook daagliks ’n Harmonie Handevat-handwerkuitstalling, solo- en groepkunsuitstallings, Firefly Studio en Vriende, Tuin na Tafel: Oes en Bedien, ’n organiese kleiwerkswinkel, kinder kuns, historiese staproetes en koorsangwerkswinkels. Die HSQA Kunsroete Kinderkunskompetisie en -uitstalling: Simfonie vorm verdere spesiale projekte.
Foto's: Verskaf
Hessequa Harmonie is meer as net ’n fees – dit is ’n uitnodiging om Heidelberg te ontdek, nuwe musiek en stories te beleef, kunstenaars van formaat te ontmoet en saam met ander feesgangers die plattelandse gasvryheid te geniet.
Kaartjies: Webtickets, of by Karee Tree in Heidelberg, oorkant die munisipaliteit.
Navrae: Lindi Smit – 084 446 3200.

‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’