Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Mosselbaai Besigheidskamer het weer eens die voortou geneem in streek-ekonomiese ontwikkeling met ‘n konferensie wat verteenwoordgers van verskeie sektore vanoor die groter Suid-Kaap streek betrek het by gesprekke oor ekonomiese groei, werkskepping en vooruitgang.
Die gesprekleier, voormalige redakteur van onder meer Die Burger en die reistydskrif Weg, Bun Booyens, het gesê die Suid-Kaap het die unieke voordeel dat plaaslike owerhede hier, anders as in baie dele van Suid-Afrika, behoorlik funksioneer.
“In Suid-Afrika, waar sowat tien protesoptogte wat geweldadig word per dag oor onder meer dienslewering plaasvind, moet dringend antwoorde gesoek word om die probleme aan te spreek.
Die Eden Distriksmunisipaliteit se portfoliokomitee-voorsitter van paaie en vervoerontwikkeling, Rowan Spies, het onder andere gesê planne vorder om die area te vestig as die volgende Metro in die Wes-Kaap, met Mosselbaai/George as die kern daarvan.
Deel van hierdie planne is die verandering van die Eden Distriksmunisipalteit se naam na die Tuinroete en Klein Karoo Distriksmunisipaliteit.
“Vantevore was beplanning beperk tot een politieke termyn. Om hierdie visie deur te voer, moet vir ‘n langer beplan word.
"Van die kernelemente wat dringend aandag verg, is watersekerheid, hernubare energie, effektiewe openbare vervoer en aansienlike beter toegang tot data sodat kommunikasie baie meer effektief kan plaasvind.”
Model en TV-aanbieder Minki van der Westhuizen het op die streek se unieke toerisme-aantreklikhede gewys en gesê daar is baie geleenthede om ‘n sterk filmbedryf hier te vestig.
Model en televisie-aanbieder Minki van der Westhuizen het besigheidsgeleenthede in die filmbedryf toegelig tydens ‘n gespreksessie met die voorsitter van Mosselbaai Besigheidskamer, Fanus Truter, en gesprekleier Bun Booyens, voormalige redakteur van onder meer die reistydskrif Weg.
“Veral buite-seisoen bied die area heelwat om produksiespanne hierheen te lok; lisensievoorwaardes vir verfilming is hier nie so beperkend nie, die area se klimaat is uitstekend en dit is heelwat stiller as die geroesemoes van die stede.
Tog is alles hier beskikbaar en met die vervoerstelsels binne bereik.” Sy het die Mosselbaai munisipaliteit gelukgewens met die dorp se netjies-versogde voorkoms.
Die voormalige Springbok rugbykaptein en tans besigheidspersoonlikheid met belange in Mosselbaai, Jean de Villiers, het daarop gewys dat sport ekonomiese groei kan aanwakker.
Hy het na internasionale voorbeelde, onder meer die Hong Kong Sevens rugby verwys, waar een sportsoort, wat vantevore nooit in Japan beoefen is nie, ontwikkel het in ‘n toeriste-aantreklikheid wat enorme internasionale aanhang het en jaarliks derduisende toeskouers lok.
Kyk 'n video hieronder:
“Besigheid kan nie meer in silo’s funksioneer nie. Vir sporttoerisme om te slaag, is dit nodig dat besighede en sportlui saam moet werk om sukses te bereik. All Black Rugby slaag omdat hul onderliggende strukture gesond is en goed funksioneer.
Vir sporttoerisme om te slaag, moet effektiewe vennootskappe gesluit word. Byeenkomste moet effektief bemark word en ontwikkel word om onderskei te word as dié byeenkoms waaraan almal wil deelneem of mee wil assosieer.
Dit moet gekenmerk word aan onoortreflike dienslewering. Die oorheersende kernelement is egter dat almal saam moet werk om sukses te bereik.
Om die jeug te bereik en te betrek, is dit egter van uiterste belang dat daar in die formaat wat hulle verkies met hulle gekommunikeer word – tegnologie is onontbeerlik.”
De Villiers het afgesluit deur te wys op die belangrikheid om te glo in die streek en die produkte van die streek. “Skep vertroue in dit wat ons hier het.
Vertroue word geskep deur die media, dit wat ons lees en hoor en dit waaroor ons praat. Praat met vertroue oor die positiewe in die streek.”
ARTIKEL, VIDEO EN GALERY: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUS REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'