LANDBOU NUUS - Agri Wes-Kaap het tydens ‘n openbare verhoor in Kaapstad die week ‘n voorlegging aan die Nasionale Energiereguleerder (NERSA) gemaak oor Eskom se aansoek vir verhaling van agterstallige inkomste (Regulatory Clearing Account application for 2018/19).
Agri Wes-Kaap het aan die proses deelgeneem op grond van die erns van die saak vir landbou-produsente in die Wes-Kaap.
Mnr Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê die vraag na elektrisiteit in die landbousektor is basies onelasties. “Produsente kan gevolglik min doen om die spesifieke koste van elektrisiteit, wat tot 20% van direkte koste kan uitmaak, in die korttermyn te verminder.
“Die feit dat die koste van elektrisiteit die afgelope dekade met meer as inflasie gestyg het, en produkpryse nie ooreenkomstig gestyg het nie, bevestig die erns van die situasie. Dit dra dus by tot die koste-knyptang effek waarin landbou-produsente hulle bevind.”
Mnr Strydom sê die tydsverloop tussen Eskom- aansoeke, Nersa-besluite en uiteindelike Eskom-aktiwiteite kan tot onvoorsiene risikos lei en dat Agri Wes-Kaap nie oortuig is dat die versoek vir ‘n verdere bedrag van ongeveer R27 miljard noodwendig korrek is nie.
“Daar is bloot te veel sake in die aansoek wat onduidelik is en wat dui op Nersa en Eskom wat na ons mening hoegenaamd nie op dieselfde bladsy is nie. Dit is duidelik uit die verskille in sienings oor hoe kapitaaluitgawes verreken moet word en die invloed daarvan op kontantvloei; reuse verskille tussen goedgekeurde en werklike dieselverbruik; groot variasies tussen goedgekeurde en werklike energiekoste (steenkool); onrealistiese verwagtinge ten opsigte van die aflegging van werknemers, en soortgelyke RCA -aansoeke wat steeds nie vir die vorige drie jaar hanteer is nie en tot regsprosesse gelei het.”
Mnr Strydom sê die feit dat Eskom volgens aanduidings in die aansoek nie renteverpligtinge uit lopende inkomste kan dek nie, dui daarop dat dit nie as lopende saak beskou kan word nie. “Die entiteit bevind homself in ‘n skuldstrik wat ‘n ernstige bron van kommer is.”
Agri Wes-Kaap meen die kostestruktuur van Eskom behoort in groter detail aan die publiek beskikbaar gestel word.
“Die rol en doeltreffendheid van Nersa behoort ook ondersoek te word, gegewe aspekte soos gebrekkige toesig oor kontrakte. Alle RCA’s moet gekonsolideer word om die potensiële uitwerking op tariewe te bepaal,” sê mnr Strydom.
Hy sê laasgenoemde behoort egter vooraf aan onafhanklike oudits onderwerp te word en dat onderhandelde elektrisiteitspryse vir sektore soos die landbousektor vir die mediumtermyn oorweeg moet word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'