'n Besorgde inwoner van Sonskynvallei, Mosselbaai, het 'n boodskap aan Mossel Bay Advertiser gestuur waarin die persoon vra hoekom hulle watertoevoer elke oggend afgesny word.
Volgens die inwoner word die water elke oggend omstreeks 06:15 afgesny, voordat dit twee uur later weer oopgemaak word.
Mossel Bay Advertiser het navrae aan die Mosselbaai-munisipaliteit gestuur om te vra of die inwoners van Sonskynvallei vooraf van die beweerde watertekort in kennis gestel is. Die munisipaliteit het bevestig dat 'n klagte oor die water op Woensdag, 21 Mei, ontvang is. "Beplande wateronderbrekings word betyds aan lede van 'n geaffekteerde gebied op verskeie platforms gekommunikeer om te verseker dat minimale ongerief veroorsaak word," het hy gesê.
Die verskillende platforms sluit die munisipale Facebook-blad en WhatsApp-kanaal, wyksraadslede se WhatsApp-groepe, buurtwaggroepe en geloofsgeba-seerde organisasiegroepe in.
"Die Sonskynvallei-rugbyveld was onder besproeiing om te verseker dat die fasiliteit teen die begin van die rugbyseisoen gereed sal wees. Dit het moontlik tot lae waterdruk gelei," het die munisipaliteit bygevoeg.
Volgens hom is geen verdere klagtes uit dié gebied ontvang nie.