Andre Marx, direkteur van Hyper Meat & Veg, Mosselbaai, skryf:
Hiermee wil ek my opregte dank uitspreek teenoor die brandweer, nooddienste, verkeer, die gemeenskap van Mosselbaai en my personeel vir hul spoedige en onbaatsugtige optrede wat beslis nog 'n tragedie in Mosselbaai voorkom het.
Op een of ander onverklaarbare wyse, vermoedelik 'n vonk vanuit my rookkamer, het daar plastiekkratte agter Hyper Meat begin brand.
Baie dankie aan diegene wat gebel en die brand aangemeld het. Julle het beslis 'n groot terugslag voorkom, tesame met al die ander hulp, veral die Mosselbaai-brandweer.
Ek waardeer elkeen betrokke se hulp. Dit is 'n ware verligting onder die hart om sulke onvoorwaardelike hulp te kon ervaar.