C.H. Boshoff skryf:
Aangaande die ganse van Groot-Brak.
Hierdie sage kom al minstens van 2010 af. In 'n volmaakte wêreld sou dit ideaal wees dat die bewarea van Groot-Brakrivier suiwer inheems sal wees, met geen mak ganse, Mallard-eende, rondloperhonde of huiskatte wat snags jag, vrylopende konyne wat wel 'n invloed op die plantegroei het, of geen invloed van die mens nie.
Ongelukkig lewe ons binne 'n realiteit van elkeen vir homself. Diereliefhebbers het gewoond geraak aan dié hoogs intelligente voëls en hulle uiters sterk sosiale struktuur. Die ganse met hul trotse houding is deel van die rustige kultuur en lewenswyse in Groot-Brakrivier.
Hul waad-/loopgebied is maksimaal 'n radius van 250 m vanaf die Beelde-parkie seekant van OpiSpoor. Toeriste word aangelok deur die duidelike samehorigheid van die ganse.
Die bewering dat die ganse 'n vernietigende effek op die inheemse voëls van die rivier het, is gebaseer op moedswillige verdraaiing van feite.
Die oorheersende wetgewing vir alle bewareas in die Wes-Kaap lê uiteindelik by die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en -ontwikkelingsbeplanning, asook CapeNature. Hulle moet dus die finale besluite neem ten opsigte van wat die impak van die ganse is.
Anders gestel - die provinsiale ordinansies oorheers munisipale regulasies of raadsbesluite en behoort ook die publiekedeelnameproses te dryf voor hulle so 'n besluit neem.
'n Groot gewag word gemaak van die drie uiters bedreigde veldtipes wat in die Mosselbaaise regsgebied voorkom: Groot-Brak-Duine-Strandveld, Hartenbos- Duine-Bos en Mosselbaai-Skalie-Renosterveld. Volgens gansbeswaardes bedreig die ganse selfs dié genoemde drie gebiede. Geeneen van die gebiede kom egter in die gemelde loop-/waadgebied van die ganse voor nie.
'n Verdere beswaar teen die ganse is dat hulle die flaminke, bloot vanweë hul teenwoordigheid, afskrik om in die riviermond te kom waad.
Die natuurlike habitat van die flaminke is egter die waterpanne wes van Mosselbaai. Slegs as die panne vanweë droogte opdroog vlieg hul ooswaarts na die Groot-Brakriviermonding.
Baster- Mallard- en inheemse eende is 'n veel groter probleem, en van hulle kom alreeds van die Eiland af stroomop tot by die eerste keerwal voor.
Gewone huiskatte wat veral snags jag en rondloperhonde is 'n veel groter bedreiging vir inheemse voëls as 'n beheerde aantal mak ganse.
As werklike bewaring geskied, sal die verwydering van die Mallard-eende asook hul basterafstammelinge voorrang geniet. Ganse verbaster nie. Die drog redenasie dat die ganse voëlsiektes sou versprei is onlogies.
Siekteverspreiding kan dan net sowel deur die tientalle kapokkies wat om Groot-Brakstasie rondloop versprei word. Watter voëls het die grootste kans om siektes te versprei - die ganse in hul 250 m radius-loopgebied of trekvoëls wat van so ver as Rusland en China kom?
Die redenasie dat ganse 'n padveiligheids-risiko op 'n provinsiale pad is gaan nie af nie. Hulle loop soms oor Morrisonweg waar die snelheidsperk 60 km/h is. Hoe vinnig moet jy jaag om ganse wat oor die pad stap dood te ry?
Toegegee, die ongekontroleerde aanwas van die ganse kan mettertyd beslis 'n invloed op die inheemse plante en diere hê omdat die loopgebied met getalletoename sal vergroot.
Oplossing
'n Kompromie is in dié geval die enigste oplossing.
Kom ons verminder die trop ganse tot byvoorbeeld 'n maksimum van 10, bestaande uit ses wyfies en vier mannetjies. Verwyder elke tweede jaar in die herfs die oortolliges. Hulle broeityd is in die lente. Keur opkomende boere wat gansdons produseer en skenk die voëls wat só geöes word aan hulle.
Sodoende word die effek van slegs 10 ganse op die bewarea tot die minimum beperk, die pro-gans-inwoners wat die meerderheid is word in 'n mate tevrede gestel, die anti-gans-inwoners behoort daarmee saam te kan leef en werkskepping vir kleinboere vind plaas.
Die plasing van twee bordjies wat 'n ganskruising tussen OpiSpoor en die riviermond aandui sal Groot-Brakrivier in dieselfde liga van "Omgee vir jou Omgewing" plaas as wat in groter dorpe asook in oorsese stede reeds plaasvind en waar die toeriste trekpleisters is.