Xhanti, 'n gr. 11- leerder van Hoërskool Punt, skryf:
Op my pa se sterfbed in Augustus 2010 het Hein Marais, 'n familievriend, hom belowe om saam met my ma na my om te sien; 'n vaderlike figuur vir my te wees.
Ek was een jaar en agt maande oud toe Pappa Hein vir my by die Sandkasteel-kleuterskool ingeskryf het.
Daarna, het ek gr. RR en gr. R by Laerskool Park voltooi.
Dit was op dié stadium toe my ma my na 'n Engelse skool wou stuur, omdat sy gevoel het sy my nie behoorlik sou kon help met Afrikaanse huiswerk nie.
Hein het haar egter oortuig om my toe te laat om my skoolloopbaan by Laerskool Park voort te sit, aangesien vier jaar van my grondslagfase alreeds in Afrikaans geskied het.
Ek is nou in gr. 11 en bevind myself in een van die beste skole in ons land, Hoërskool Punt, met 'n paar uitstekende onderwysers.
Die skool gaan uit sy pad met elke leerling, en mnr. Gouws-hulle het my ook al gebruik om die skool in Afrikaans te bemark.
Vergun my asseblief om te sê dat ek 'n vu-rige liefde vir Afrikaners en Afrikaans as 'n geheel ontwikkel het.
Dis tyd dat Suid-Afrikaners die verlede agter hulle sit en mekaar se kultuur en taal omhels.
Dis egter moeilik in ons land, omdat verdeeldheid tussen wit mense en swart/bruin mense gedurig vanaf die podiums deur politici aangevuur word, maar ek weier om die bagasie van Afrikaans saam met my te dra.
'n Taal kan nie rassisties wees nie, slegs mense kan.
My drietaligheid het baie nuwe deure vir my oopgemaak, en deur my hele skoolloopbaan het Afrikaanse mense, onderwysers en medeleerlinge my nog altyd op die hande gedra.
Ek huil in Afrikaans, ek lag in Afrikaans, ek droom in Afrikaans, ek bid in Afrikaans, en nou onlangs het ek ook in Afrikaans begin sing.