Verdra mekaar, aanvaar mekaar en bedaar mekaar - dalk is dít die oplossing?
Ek het onlangs die voorreg gehad om twee vroue te ontmoet wat mense, na my mening, gerus na kan opkyk. Een luitenant-kolonel Maria Gerber en die ander Elzabé Zietsman. Vir seker 'n interessante kombinasie, maar die twee het vir my iets in gemeen gehad: hul verdraagsaamheid, en selfs liefde, teenoor hul medemens. Die kleurvolle taalgebruik het ook gehelp (meer algemeen by Elzabé as die kolonel, maar nietemin) - dit laat soms 'n ding soveel meer opreg klink.
Ek dink dis hulle hoop vir die mensdom en ook die feit dat hulle onverdraagsaamheid verafsku.
Die kolonel is van mening ons is op hierdie aarde geplaas om mekaar te help. Die polisie kan ook net soveel doen, so mense moet inspring en help waar hulle kan, al is dit iets kleins. Sy't onlangs 'n toekenning gekry en al wat sy eintlik wil doen is mense help om mekaar te help.
Baie van wat Elzabé vertel het oor haar lewe in Brixton, kom op dieselfde neer. Sy is deel van 'n gemeenskap wat mekaar ondersteun ten spyte van swaarkry.
Sy was 'n rukkie gelede hier op Mosselbaai vir 'n vertoning genaamd 4 Panado's en 'n Chardonnay. Sy sê dit gaan oor mense se veerkragtigheid. Nou om met veerkrag te kan terugkom, beteken iets het jou probeer afdwing - hiervan het sy al baie ervaar. Of dit nou mense is wat haar probeer indoen, of ander wat haar slegsê. En slegsê gaan mos makliker as mense agter 'n skerm kan wegkruip; dít het sy mooi illustreer. Sy het in 'n stadium iets oor "Steve en sy dissipels" op sosiale media kwytgeraak...
Kyk, het die mense nou vir haar van binne en buite en oraloor sleggesê in woorde wat ek liefs nie sal herhaal nie. Sy het van die kommentaar vir haarself uitgedruk en afgelees, want "dié drek gaan ek nie memoriseer nie" het sy gesê.
Daar was enigiets van rassisme tot seksisme tot byna enige ander -isme onder die son, en 'n fobie vir enigiets wat nie wit en reguit is nie. Goed wat 'n mens amper nie kan glo iemand op 'n openbare platform kwyt sal raak nie...
Vreemd hoe skynbare oppervlakkige gesprekke met vreemdelinge soms so mooi by sulke dinge aansluit. Ek het in die week 'n nuwe deel van 'n koffiewinkel verken waar ek 'n man ontmoet het wat dié deel sommer sy kantoor maak, want daar pla die mense hom nie.
Ons gesels oor ditjies en datjies, hy lewer kommentaar op my vreeslike groot sak en dit kom uit dat daar moet plek wees vir 'n skootrekenaar en kamera.
"Fotograaf?" vra hy. "Joernalis met 'n kamera," sê ek.
Hy lees nie koerante nie, nog minder op sosiale media, sê hy. Dié vermy hy soos die pes en sy selfoon is in elk geval omtrent permanent op silent.
Ja, sê ek, ek sou ook as ek kon, maar dis ongelukkig maar deel van my werk.
Hy reken (en ek is geneig om met hom saam te stem) sommige mense staan in die oggend op en (hy hou sy hande bak) "eet 'n bakkie stupid vir ontbyt". Dus vermy hy eerder die platforms vir sosialiseer.
Ek lag lekker, want daar kom gereeld mense wat aan só ontbyt gesmul het oor ons aanlynspan se paaie. Ek dink party van hulle eet vermetelheid vir ontbyt, middag- en aandete. Dalk sommer nog 'n middernag snack ook.
Dit sluit maar aan by die onverdraag-saamheid waarteen Elzabé en die kolonel so gekant is. Dis elke dag en oral te sien. Wat die oplossing is weet nugter (en dronk) alleen, maar dit was vir my lekker om in die teenwoordigheid van mense te wees wat hulle teen dit uitspreek. En dit nogal van die ouer garde...