Om te trek word as die derde mees traumatiese ervaring beskryf wat mense in 'n leeftyd kan beleef. Na 20 jaar in my eie huis in Johannesburg, was dit dan ook so dat die uwe weens omstandighede na die Suid-Kaap getrek het en hier net kon bekostig om in 'n huurhuis te kom bly.
Aanvanklik het dit heel goed gegaan in die nuwe huis met 'n vol see-uitsig, want kom jy van die binneland het jy net een versugting en dit is om die see te kan sien.
Behalwe dat huurhuise ook impliseer dat jy met 'n ander se minder lekker meubels ploeg, terwyl jou erfstukke en pragtige leerbanke, dubbeldeur-yskas, wasmasjien, tuimeldroër en skottelgoedwasser staan en verroes en stof opgaar in die motorhuis.
Na 'n jaar het die huiseienaars gewoonlik genoeg geld uit jou gemaak om hul huis te moderniseer en moet jy inderhaas nuwe verblyf kry. So skarrel almal rond en kry jy uiteindelik 'n huis teen 'n bekostigbare prys, maar dit kom met 'n 'prys'. In Desember moet jy uittrek. Die tipe verblyf, is weens die toestroming van mense uit die binneland wat die huispryse opstoot en 'n skaarste aan blyplek in die Mosselbaai-area, 'n welkome opsie vir mense wat in die knyp is.
Totdat November naderkom en jy met 'n hol kol op die maag besef daar is eintlik nêrens vir jou, jou kind, twee troeteldiere en 'n motorhuis vol meubels om heen te gaan nie. Oral waar jy gaan en almal wat jy ken, word gevra om op die uitkyk te wees vir 'n moontlike huurplek. Party maak voorstelle, maar die meeste probeer oogkontak vermy en glip vinnig om 'n hoek as hulle jou sien. Want daar is geen skaarser ding in die gebied as ordentlike, bekostigbare huurplekke nie.
Vir Charlie, my outistiese seun, is enige verandering in plek en roetine 'n groot kwessie wat tot ernstige gemoedswisselings lei. So berei ons hom voor vir die verandering, maar op die dag van die trek bly hy moeilik en hardloop skreeuend agter die ouerige kat (Valie) aan wat self verward is oor die woelinge in die huis.
Teen vroegaand gaan ek en hy terug om die katte te gaan haal. Valie is weg. Terwyl ons besig is, kom Valie in die huis in en soos blits het Charlie al die deure en vensters toe, vang vir Valie en sit haar in die kattehok. Hy stap met haar bakkie toe en gaan sit rustig met die hok op sy skoot. Kalm en tevrede. En ek besef, Valie, ons negejarige kat wat saam uit Johannesburg hierheen getrek het, is die enigste troeteldier van ons drie honde en ses katte wat oor is ná die trek hierheen.
My hart ween vir jou my kind.