Nee kyk, Ouma Thiena kon wiele maak. Sy het sulke groot stewige ronde gemmerkoekies gebak wat jou op 'n smaakreis na wonderlike bestemmings geneem het. Dis nou my ouma aan moederskant.
Ouma Katie, my ander ouma, het ek nooit regtig geken nie, maar die ou kameras en film van lank terug het haar skoonheid vasgevang. 'n Mooi vrou. Ek was baie klein toe sy oorlede is.
Baie mense sal sekerlik verstaan dat oumas (en oupas) besonders is - mense waarvoor mens baie lief raak. Met hul gryskoppe en lewenswysheid kruip hulle diep in kleinkinders se harte in.
My oumas en oupas is al lank gelede oorlede, maar ek mis hulle steeds. As ek iets van oumas en oupas hoor dink ek dadelik aan hulle. Onlangs was dit weer so.
Laat ek eers die aanloop skets. Wanneer ek by die NG Moedergemeente in Courtenaystraat verbyry, dink ek aan Ouma Thiena. Ek noem die kerk sommer Ouma Thiena se kerk. Sy het as 'n jong dogter belydenis van geloof daar afgelê. Dit was lang paaie wat sy en my oupa, wat van die Oos-Kaap gekom het, geloop het.
Hulle is getroud en het van die destydse Port Elizabeth na die Witwatersrand verhuis. Jare later het my ma en pa in Roodepoort ontmoet. Hulle is getroud, en toe, meer as tien jaar gelede, na verskeie omswerwinge, het hul een kind, dis nou ek, in George beland.
Toe ek onlangs 'n konsert van Innes en Franna Benade in die einste kerk bygewoon het, het ek 'n knop in my keel gekry. Die mooi musiek het my hartsnare geroer en ek het gedink aan Ouma Thiena. Hoe het sy gevoel toe sy destyds in daai kerk was?
Interessant - Ouma Katie se een suster het ook in stadium hier gewoon - langs dieselfde kerk. Toe ek kort na my aankoms in 2008 in George 'n draai by haar gaan maak, kon ek onmiddellik die skoonheidsgene van Ouma Katie van die foto’s, ook in haar herken. Haar reguit manier van praat het my laat onthou wat my ouers altyd van die susters vertel het.
Verlede week kruis my pad toe met nog 'n ouma. 'n Paar dae vroeër het ek op Oudtshoorn Dogs in Need (ODIN) se Facebook-blad gesien 'n baie ou Jack Russel het hulp nodig.
Ek doen navraag en so gebeur dit dat ek van verlede Woensdag af vir 'n paar dae na haar omsien. Ek gaan laai haar op in Kleinkrantz naby Wilderness. Sy is baie bang en kyk my grootoog aan. Sy is baie oud.
Ons ry terug George toe. Op pad kry ek 'n boodskap oor 'n moontlike groot politieke berig wat gaan opslae maak. Ek gaan laai die hondjie by die huis af en kom kantoor toe. Met die berig afgehandel vertrek ek huis toe.
'n Vriendin en ek gaan maak later 'n draai by die Paddagatsentrum. In die parkeerterrein lê 'n R50 noot in die pad. ‘n Ligte wind wil dit net-net wegwaai. Ek tel dit op en ons vra die man wat voor ons stap of dit sy geld is. Nee, hy dra nie kontant nie.
My vriendin kyk vir my: "Hoekom koop jy nie iets vir die hondjie nie?"
Goeie idee en ek koop 'n kombers.
Later tref dit my: soms gebeur dit dat mens ander mense "help" sonder dat hulle dit eers weet. Natuurlik is die R50 'n groot verlies vir die persoon wat dit verloor het. Maar, as hy of sy kon weet hoe dit gehelp het, maak dit die verlies sagter.
En o ja, dit was nie sommer enigiemand wat gehelp is nie. Die hondjie se naam is Ouma.