16 Junie is Jeugdag. Natuurlik neem dit my terug na dié dag in 1976, al is dit 47 jaar gelede.
Ek was net 16 jaar oud en in daardie stadium het ek nie regtig die implikasies van die gebeure besef nie. Televisie was toe nog 'n relatiewe nuutjie, en saam met duisende ander het ek die gebeure in die dae daarna gevolg wat saans oor ons skerms geflits het.
Dit was nog die dae van aparte woonbuurte en vir ons wat in 'n wit woonbuurt van Johannesburg gewoon het, was Soweto relatief ver verwyderd.
Die vrou wat in ons huis gehelp het, het in Soweto gewoon. Sy het my ouers vertel van die gebeure, geweld en ontwrigtings en my suster en ek het grootoog geluister.
Dit het 'n diep indruk op my jong gemoed gemaak. Suid-Afrika sou nooit weer dieselfde wees nie.
Ek dink ook terug aan 16 Junie 2018. Vroeg die Saterdagoggend het my ma gebel. My pa is oorlede. Ofskoon hy in die intensiewesorgeenheid van 'n hospitaal was, én baie siek was, was die nuus tog skokkend. Mens hoop mos maar altyd iemand bly lewe.
In die dae daarna het ek baie oor my pa gedink en nou weer. Dis immers Sondag 18 Junie Vadersdag. My pa, wat so 'n groot invloed op my jeug en my latere lewe gehad het. Destyds het ek dit nie eers eintlik besef nie.
Wanneer ek aan my pa dink gaan my gedagtes baie ver terug. Die laaste paar jaar van sy lewe het ek hom nie so baie gesien nie. My ouers in Johannesburg, en ek in George. Ons het tog wel redelik gereeld telefonies gesels en so goeie kontak behou.
Vir my en my suster was en is hy vandag nog Dadda, al is hy nie meer met ons nie. Dis hoe ons hom genoem het.
Reeds as klein seuntjie het ek geleer hoe streng hy was. Maar later het ek besef hy het ook 'n ander kant gehad met 'n groot, sagte hart wat so baie vir sy gesin sou doen.
Soos byvoorbeeld om na-ure te werk en laatnag in die donker 'n ver pad terug huis toe te stap. My ouers het in daardie stadium nie 'n motor besit nie. Hy het na-ure gewerk sodat ons 'n dak oor ons kop kon hê en my suster en ek na 'n goeie skool kon gaan. Hy het geglo my ma moenie werk nie.
Dadda het so anders as ek grootgeword. Beslis nie al die ekonomiese voorregte gehad wat ek as vanselfsprekend beskou het nie.
Ek was deel van 'n nuwe geslag Afrikaners. Hy het grootgeword in 'n ander tyd. 'n Tyd toe Afrikaners in sekere kringe selfs as agterlik beskou is. Later in 1948 het hy beleef hoe die NP aan bewind gekom het.
'n Oordrewe groot Afrikaner was hy beslis nie, maar hy was beslis allesbehalwe skaam vir sy taal. Al is ons van op die Engelse wyse uitgespreek. Dis Gunning soos in skiet in Engels en hy het verskil van sy broer wat geglo het dis die Afrikaanse Gunning – soos in ek gun jou dit. Hy het selfs bewyse van geboortesertifikate gekry en vir my gewys die Gunnings is van Ierse afkoms.
Dadda was nie 'n tipiese Afrikanerman wat altyd sy manlikheid wou bewys nie. Hy het my my gang laat gaan en my selde verplig om iets te doen of druk op my geplaas. As ek byvoorbeeld rugby wou speel, was dit my eie keuse.
Ook het hy nie ingemeng in my huweliks- en loopbaankeuses nie. Wat ek wel onthou is toe ek een Sondag gekla het omdat ek moes gaan werk by die destydse Beeld, het hy bloot opgemerk: "Jy het self jou loopbaankeuse gemaak."
Dadda was beslis nie volmaak nie. Toe ek as seun in die hoërskool kwaai in die politiek begin belangstel, het ons erg verskil. Tot my ma en suster se ontsteltenis was die etenstafels saans of Sondae soms net so erg soos 'n rumoerige politieke vergadering van die ou dae.
Eers later het ek besef hy wou my eintlik net beskerm omdat hy 'n idee gehad het van hoe wreed die politiek en lewe kan wees.
Ek onthou hoe ek hom verwyt het dat die ouer garde in 1948 vir die NP kon stem. Hy het verduidelik dat mens dinge in konteks moes sien. Hy het nie 1948 se gebeure probeer verdedig nie, maar verduidelik daar was destyds bepaalde gebeure in die land en Afrikaner geledere.
By hom ek het ook geleer alle mense is gelyk. Tot my eie skaamte vertel ek graag 'n staaltjie. By geleentheid het daar werkers 'n mat by ons huis kom installeer. Ek het vir die mense koeldrank aangedra. Vir die wit werkers in my ouers se deftigste glase. Vir die ander mense in gewone bekers.
My pa het die skinkbord diplomaties by my gevat en my eenkant toe geroep. "Gaan gooi vir almal koeldrank in dieselfde glase. Alle mense is gelyk."
So was daar talle dinge in my jeugjare en eers later het ek die waarde daarvan besef. Tot vandag doen ek soms dinge op 'n bepaalde wyse en besef dit kom eintlik van Dadda af.
Ek was bevoorreg om so 'n pa te kon hê. Al is hy nie meer hier nie, "leef" hy nog.
Seuns en dogters – as julle 'n getroue pa het of gehad het - onthou hom gerus Sondag. Vergeet van die verskille. Jy besef dit dalk nie, maar hy het 'n groot, positiewe invloed op jou ganse lewe - nie net op jou jeugjare nie.