Binne 'n paar sekondes het ek van een "wêreld" na 'n ander beweeg. Vanuit die koue, nat reën na 'n ander wêreld waar dit heerlik warm is. 'n Amper sprokieswêreld van gekleurde liggies, baie knoppies, televisiemonitors en klankdigte vertrekke.
Hier praat die mense byna gedemp - al hul aandag by die knoppies en televisiemonitors voor hulle.
Ek was nog nooit in 'n duikboot nie, maar dit lyk hier soos die tonele wat ek al op televisie gesien het van diep in die hart van die mensgemaakte walvisse - lees duikbote.
Al is dit 'n ander wêreld hier, is die mense nie afgesny van die realiteit daarbuite nie. Trouens hier kan hulle van binne gebeure daarbuite deeglik dophou. Hulle "oë" en "ore" is hoogs gevorderde kameras en sensitiewe klanktoerusting.
Hierdie is nie 'n duikboot nie, maar 'n mobiele buite-uitsendingseenheid van SuperSport. Dit staan by Outeniquapark waar die afgelope o.18 Cravenweek se laaste dag plaasvind.
Danksy hoogs gevorderde tegnologie sien duisende mense byna onmiddellik regoor Suid-Afrika die gebeure op Outeniquapark in George. Satelliet-tegnologie word onder meer ingespan om die beelde te herlei na 'n satelliet hoog bo die aarde. Vandaar weer na Randburg in Gauteng en uiteindelik na kykers oor die lengte en breedte van Suid-Afrika. Dit alles binne sekondes en ek was bevoorreg om dit te kon beleef.
Ek wou al van jongs af so 'n eenheid besoek. Laat ek dadelik verduidelik dat ek as jong kind nie televisie geken het nie. In my laerskooldae was daar nog nie televisie in Suid-Afrika nie. Dit het eers in my hoërskooldae gekom.
Toe televisie in Suid-Afrika uiteindelik sy opwagting in die 70's maak was dit 'n groot gebeurtenis. Die lang wag was verby. Eers was daar net 'n toetspatroon en mense het selfs daarna gekyk. Later toetsuitendings en toe die amptelike uitsendings. Nie alle huisgesinne het dadelik TV-stelle gekoop nie en het by ander mense gaan kyk.
In daardie dae was daar op weeksaande geskeduleerde uitsaaitye. Ja, daar was mense wat in daardie begin dae van televisie soms tot sluitingstyd gesit en kyk het. Dit was wanneer die land se Volkslied gespeel is en die land se vlag gewapper het. Ek was een van die mense wat soms gekyk het tot die vlag wapper.
Toe my ouers 'n televisie koop was dit 'n groot gebeurtenis. Ouma en oupa is spesiaal genooi. Dit was goeie tye en terugdink bring goeie herinneringe. Ek het by tye vasgenael gesit. Televisie het my aangegryp. Daar was programme soos Haas Das se nuuskas, Kraaines, Bonanza, Kennisbou, Rich man Poor man, The Thornbirds, Dallas en natuurlik die nuus. Behalwe vir die nuus uit die ateljee en sport, was lewendige uitsendings nie algemeen nie.
Ek onthou goed die eerste keer toe ek 'n lewendige rugbyuitsending gesien het. Dit was 'n wedstryd tydens die klubkampioenskappe in Durban. Dit was so onwerklik. As ek vandag terugdink was dit vir my soos 'n wêreldbekereindstryd waarin die Springbokke speel. Dit was reeds in daardie begin dae van televisie in Suid-Afrika dat ek baie graag so 'n mobiele eenheid wou besoek.
Maar dit sou lank wees voordat ek die geleentheid kry. Oor die jare het die televisie- en medialandskap in Suid-Afrika ook baie verander. Satelliet/skottel televisie het onder meer staanplek in Suid-Afrika gekry. 'n Groter wêreld het meer sigbaar en direk geword met 24 uur nuuskanale.
As jong verslaggewer by Die Vaderland was ek ook bevoorreg om in die SAUK-gebou in Auckland Park laataand 'n opname dop te hou van 'n Amerikaanse TV-netwerk. Dit was van Nightline wat deur Ted Koppel, gerekende internasionale TV-aanbieder, aangebied is. Later het ek 'n nuuskonferensie van die span bygewoon en dit het 'n diep indruk op my gemaak.
My onlangse besoek aan die buite-uitsendingseenheid was om verskillende redes iets besonders, maar veral omdat ek dit self kon beleef. Dit was 'n lewendige uitsending.
In die dae daarna het ek baie gedink. Soms moet 'n mens van een wêreld na 'n ander beweeg.
Al is dit net vir 'n paar minute. Daar waar jy van binne na buite kan kyk. Vanuit 'n omgewing waar jy veilig is en beskerm is teen die koue van die lewe. 'n Gevoel van opwinding wat weer ander perspektief bring.
As jy daar uitkom is die koue nog steeds daar buite, maar jy voel anders.
Ek het dit self beleef.
- Eugene Gunning