So het ek onlangs die geleentheid gehad om vir die eerste keer in twee jaar oor die Swartberge te reis na die noordelike dele van ons land.
Dit was 'n groot verligting om weer te gaan asemskep in die groter Karoo en die uitgerekte grasvlaktes, die klipkoppies, die stilte en die immer veranderende sonsondergange, te ervaar.
Johannesburg waar ek vir 30 jaar gebly het ná my studies, was ons volgende bestemming. Dit was lekker om my ander kind, my broer, ou vriende, kollegas en bekende plekke weer te sien en ek is met heimweë daar weg. Ondanks die woeste verkeer, die magdom mense en die besige inkopiesentrums, het Johannesburg 'n vibe en eiesoortige bekoring waar ek tuis voel.
Vandaar is ons na Vaalharts in die Noord-Kaap waar ek grootgeword het en waar my pa se plaas 'huis' was vir 48 jaar. So reis en kuier ons en probeer in twee, drie dae per plek, jare se gebeure herleef en lief en leed bespreek.
By elke plek waar ons wegry, is daar 'n knop in die keel, 'n verlange na dit wat was.
Na 'n goeie terugrit via die grondpaaie van die groot Karoo met eenvoud-mooi tonele en onverwagse verrassings soos 'n pragtige arend wat vlak op 'n draadheining sit en honderde angora bokke wat die hele pad vol loop, ry ons oor die Outeniqua-pas die Suid-Kaap binne.
En dis weer lekker om hier te wees en die mooi om ons opnuut te beleef en te waardeer. Want soos met alle dinge, raak mens die goeie ook te vinnig gewoond en moet jy so af en toe op ander plekke perspektief gaan kry oor jou lewe en die pad vorentoe. So was een van die redes hoekom ek moes ontvlug van dié area, die klein dorpie mentaliteit wat ongelukkig deel geword het van die leefervaring in Mosselbaai en omgewing.
Ek is op verskeie groepe op soek na verblyf en die arrogante, gemene en kwetsende opmerkings wat deur lede en van die administrateurs gemaak word, laat my bloed kook. So sal een dame opmerk, na aanleiding van iemand se aanmerking dat huurpryse belaglik geword het in Mosselbaai, dat dit "die f....n Transvalers wat almal plak-plek soek se skuld is!"
So verstaan ek reg? Daar is 'n tekort aan akkommodasie en mense soek blyplek wat dit regtig nie kan bekostig om te koop nie. Nou word hulle hemelhoë huurpryse gevra vir eiendom wat dit beslis nie werd is nie?
En dan is dit nog hulle skuld ook?!
Ek het nuus vir die dame en die duisende ander wat soos sy dink. Mosselbaai 'behoort' nie aan julle wie se voorgeslagte nie die nodigheid of moed gehad om oor die Swartberge noord te trek en in wie se huise julle nou waarskynlik bly wat vir 'n appel en 'n ei gekoop is nie. Of dalk het jy hard en eerlik daarvoor gewerk en dit self gekoop. Hoe ook al. Net soos enige ander plek in die wêreld, kan ons as mense net vir 'n kort rukkie aanspraak maak op 'permanente verblyfreg'.
Mosselbaai en omstreke is besig om geweldig uit te brei en ja dit irriteer almal en ons verlang terug na die goeie ou dae. Maar die lewe soos ons geken het, bestaan nêrens meer nie.
Die Covid-pandemie was inderwaarheid die grootste 'wêreld'-oorlog tot op hede met vernietigende gevolge vir mens en dier oor die hele aardbol heen. Nie net in Mosselbaai nie. So kom ons los die snedigheid, die kleinlike trap op ander om bo uit te kom, die geneigdheid om niemand anders iets te gun nie, veral nie 'inkommers' nie.
Kom ons geniet die bietjie aarde en tyd wat ons nog oor het. Reik uit na ander, wees 'nice' en help mekaar, veral dié in regte nood. Glo my, dis 'n verrykende en verreikende ervaring. Sela!