Soos baie ander mense, het ek nie eintlik 'n voorliefde vir spinnekoppe nie. Die kleintjies is nog aanvaarbaar, maar ai, die ou grotes en ek kom nie so lekker oor die weg nie.
So oor die jare, het ons ook 'n ooreenkoms bereik dat ek nie in hulle huis ingaan nie en hulle dus ook nie in myne welkom is nie.
So af en toe is daar 'n paar kansvatters wat duidelik nie van ons ooreenkoms weet nie.
So kom ek een môre om die draai, nog met slaap in my oë en word bewus van 'n swart teenwoordigheid teen die muur. Na 'n double take, bevestig my brein, ja dit is Ta wat teen die muur sit en my met kraalogies dophou.
Ter verduideliking moet ek net noem van my twee jonger broers wat as kinders op die plaas hul ouer suster geterroriseer het met die middelblad-grootte foto's van spinnekoppe wat gereeld in die Fanie en Melanie-afdeling van die Huisgenoot om 'opvoedkundige redes' geplaas is. So het ek dit onder my kopkussing gekry as ek vreedsaam in die bed wou klim en dan het hulle om 'n draai vir my gestaan en wag met die foto's voor hul gesigte gehou. Soos julle kan verstaan, het dit nogal 'n uitwerking op die psige van 'n onskuldige jong dogter gehad.
Verdwyn
Terug by die een teen die muur. Ek verduidelik toe vir Ta dat ek hom 'n dag gee om te "verdwyn" anders sal ek hom moet uithelp.
Dié aand sien ek daar is 'n toeloop van miere tot binne die ys- en vrieskas en uit moedeloosheid spuit ek gif rondom die wasbak en oral waar die gediertetjies besig is om in kaste en oor kos te klim. Die volgende oggend kom ek versigtig om die draai en sien dat Ta nie meer teen die muur sit nie.
Ek is verheug dat my mooi-praat gewerk het. Ek sien 'n horde mier-lyke by die wasbak wat ek afvee met 'n nat lap en begin om water in die wasbak te tap om die areas weer te was om dit gifvry te kry. Daar is 'n paar items in die wasbak en terwyl die water intap, begin ek solank die goedjies was.
Die volgende oomblik dryf daar 'n groot spinnekop-karkas rond en begin die "lyk" lewe kry in my wasbak. Nou kyk, ek was nog besig om wakker te word voor my oggendkoffie.
Ek gryp dieselfde bottel gif-spuitgoed en fumigate vir Ta net daar en dan in die wasbak. Maar nou kan ek nie mooi sien of hy dood is nie en of hy dalk aan die kant vir my wag as ek weer niksvermoedend my skottelgoedjies wil was nie. Na 'n halfuur of so, skraap ek genoeg moed bymekaar om oor die rand te loer en ja daar lê Ta opgefrommel aan die kant.
Maar is hy nou dood of wag hy om weer te herleef as ek hom wil uithaal? En hoe kry ek hom nou daar uit?
Na lang oorlegpleging met myself, besluit ek om Ta met die lang braaitang uit te haal en buite te sit. Dit het goed gewerk en ek het hom lank buite dop gehou, maar daar was nie weer beweging nie.
So het Ta natuurlik agter die miere aangekom en is toe bedwelmd gelaat deur die gif. As natuurliefhebbers sal julle my hopelik vergewe, maar 'n vrou kan ook net soveel provokasie hanteer. Vir dae daarna het ek die wasbak en oppervlakte rondom met seep uitgewas en is nou nog op die uitkyk vir 'n gevaarte as ek daar rond is. Dit lyk darem asof die res van die spesies die memo gekry het, want sover was daar nog nie weer 'n verrassing teen die muur nie!