Dis 5 November 1969. Ek sit vasgenael voor die radio in ons kombuis in Johannesburg en luister na oom Gerhard Viviers wat die Springbokke se wedstryd in Londen teen Oxford Universiteit beskryf. Dan bars ek in trane uit. My geliefde Springbokke het pas 6 - 3 verloor. My ma probeer troos, maar ek huil.
Hierdie grepie uit my lewe het meer as 50 jaar gelede plaasgevind en baie water het intussen in die see geloop. Hoe het tye nie verander nie!
Deesdae kyk ek die wedstryde op televisie en my geliefde Springbokke, anders as destyds, is oral welkom. Peter Hain en sy politieke vriende, waaronder Gordon Brown, toe 'n toekomstige Britse eerste minister, het destyds gesorg dat die Springbokke nie oral welkom was nie. Dit is om dit sagkens te stel.
Huil oor 'n Springbok-nederlaag sal ek nie meer nie, maar ek moet sê ek was Saterdagaand, 23 September, baie ongelukkig toe die Springbokke teen Ierland verloor het.
My glasie rooiwyn, (Swartland cabernet sauvignon/merlot 2022), biltong en droëwors was darem 'n klein vertroosting.
Baie mense kan sulke dinge nie verstaan nie. Hulle redeneer: Hoekom sal 'n mens opgewonde raak oor 31 mense, wat jy nie ken nie en wat op 'n veld van sowat 100 m
by 70 m agter 'n ovaalbal van 28-30 cm wat tussen 410 gram en 460 gram weeg, rondhardloop vir 80 minute?
So 'n redenasie is natuurlik 'n oorvereen-voudiging. Dit gaan oor baie meer. Dit gaan oor sport. Rugby is net een aspek.
Van kleins af het ek soos baie ander Afrikaanse seuns grootgeword met rugby. Nou nog het ek die eerste rugbybal wat my ouers vir my gekoop het. Nogal by die OK.
My helde destyds op skool was spelers soos Mannetjies Roux, Dawie de Villiers en Jan Ellis.
Elke brokkie in 'n koerant en tydskrif het ek opgeslurp. Saterdagmiddae was ek voor die radio, nee eintlik was ek in gees by die stadion.
Sal ek ooit die radio-omroeper vergeet: "En nou vir kommentaar oor die toetswedstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland skakel ons oor na Gerhard Viviers op Loftus Versfeld."
En dan oom Gerhard wat praat: "Goeiemiddag Suid-Afrika."
My ouers was vriende met die Viviers en danksy oom Gerhard-hulle het ek vir die einste Jan Ellis ontmoet. Daar op oom Gerhard se plaas, Spiekeries naby Brits, het ek die man gesien wat 'n rugbybal behoorlik kon vashou.
Nog baie later het ek in my beroep met Dawie de Villiers te doen gehad toe hy in die politiek was.
In 2008 het Die Burger my na George gestuur en in daardie tyd het ek ook vir Mannetjies Roux ontmoet.
Destyds, na die ontmoeting, het ek my Jack Russel na Mannetjies vernoem. Toe Mannetjies op 'n keer in George was, het ek weer 'n onderhoud met hom gehad.
Mannetjies, die Jack Russel, was by en hy wou die hele tyd net op Mannetjies se skoot klim. Ek het al my dae gehad. "Klim af Mannetjies," het ek my hond beveel. Mannetjies Roux het net geglimlag. Dieselfde Mannetjies wat tydens die 1969/70 toer in Brittanje vir die betogers gewys het wat hy van hulle manewales dink.
Ai, dis kosbare herinneringe.
En dit laat my besef wat die waarde van sport is. Natuurlik sorg sport nie dat beurtkrag ophou nie; sorg nie dat alle probleme eensklaps verdwyn nie - maar dis 'n wonderlike voertuig.
Dit maak 'n groot verskil. As jy my nie glo nie, kyk bietjie rond op 'n Maandag-oggend na die Bokke in 'n toets gespeel het. As die Bokke verloor het, is mense nors en selfs ongeskik. As hulle gewen het, is mense vriendelik. Meer verdraagsaam. Hulle doen dinge en werk sommer harder.
En dis wat ons land nou nodig het. Mense moet weer droom en dinge doen. Hopelik sal ons almal op die laaste Maandag van Oktober glimlag, lus voel vir die lewe en om positiewe dinge te doen.
Die eindstryd van die 2023 Wêreldbeker-toernooi in Parys is Saterdag 28 Oktober.
Kom ons maak geskiedenis. Op die veld en in ons land.
Die Springbokke het afgelope Sondagaand, 1 Oktober, Tonga met 49 - 18 verslaan.
Mannetjies Roux en sy vrou, Charlotte saam met Mannatjies. Foto: Eugene Gunning