Dis 'n rukkie na 04:00 op 'n weeksoggend. Daar is 'n ligte byt in die lug - dis al immers herfs. Dis donker, maar die straatlig verskaf so skrams lig in die voortuin.
In die ooste is daar nog geen teken van die son nie. Twee maande gelede was dit die tyd nog net 40 minute voor die groot oranje bal se eerste strale oor die horison skiet om die nuwe dag formeel aan te kondig.
Ek probeer regopstaan en is nie heeltemal wakker nie. Dit voel amper of ek by tye wieg. Gewoonlik sal jy my nie dié tyd van die vroeë oggendure in die voortuin kry nie. Eerder in die bed waar ek nog vir oulaas in my slaap droom, voordat die dag met sy vreugdevolle uitdagings en wie weet, ook lewende nagmerries wag.
Dis eintlik baie stil die tyd van die oggend. Selfs die voëls slaap nog. Hier en daar is voertuie se klanke wat aandui mense ry al êrens heen.
Ek kyk na die Outeniquaberg en sien die kenmerkende silhoeët. Die berge is altyd besonders en selfs hier in die oorwegende donkerte maak die sigbare lyne van die berg 'n diep indruk.
Ver bokant in die lug is die sterreprag. Dis lyk soos 'n donker dak met klein spikkels liggies. 'n Oneindigheid. Dit vertel van die verlede en die toekoms.
My geliefde honde dwaal in die tuin rond. Ruik hier en daar, en steur hulle glad nie aan my nie. Hulle verken die grasperk en die tuinbeddings - hulle ken die tuin en is nie verlore in die byna totale donkerte nie.
Hulle kom nie agter hoe langer ek staan, hoe meer ongeduldig word ek. Dis deur hulle toedoen wat ek nou hier staan en die ongemak verduur.
Vaagweg tussen die bome van die bure, skuins oorkant die straat, sien ek lig teen die berg. Wie is so vroeg teen die berg wonder ek. Die lig beweeg nie.
En dan tref dit my: Dis die bekende verligte kruis teen die berg. Die ongemak maak dadelik plek vir vrede. Ek begin kans sien vir die dag - die donker in my gemoed verlig.
'n Dag of twee later drink Richmond, my vriend van Thembalethu, en ek soos gewoonlik koeldrank en koffie by die ingang van die Tuinroetedam. Op pad die oggend om hom op te tel, het ek weer die kruis gesien.
Dis al na 06:00 en begin stadig lig word. Nieteenstaande, is die verligte kruis nog steeds sigbaar. Die motor se kantvensters is oop. Die lug is vars en skoon. Hoe langer ons sit, hoe meer word die daggeluide ook hoorbaar. Die voëls is al wakker en hulle soek seker al "ontbyt". Richmond en ek het al in die verlede gepraat oor die kruis en doen dit weer vandag. "Kyk," sê Richmond." Die lig van die kruis brand nog."
Ek vra hom of hy die kruis in Themba-lethu kan sien. Ja, sê hy. Hy kan dit ook van sy huis af sien.
In die dae na die vroeë oggend in die tuin en by die ingang van die dam, gaan my gedagtes op ver reise en draai kort-kort by die kruis.
Die laaste tyd voor ek saans my voordeur sluit, gaan staan ek self soms en soek eers na die verligte kruis teen die berg. Dit gee gemoedsrus. Dis amper soos, "Ek slaan my oë op na die berge waarvandaan sal my hulp kom ..."
Dit tref my ook dat dit juis in die dae die aanloop tot Paasfees is. Hoe het my eie lewe en werklikheidsbesef nie verander nie. Van jare gelede as kind wat opgewonde geraak het oor die heerlike sjokolade paaseiers wat ek met Paasfees ontvang het, tot 'n diepe besef as volwassene dat Paasfees 'n oorwinning van lewe oor dood is. 'n Herbevesting van hoop.
Die verligte kruis teen die berg laat my draai by my eie 2024 Paasfees-adres. Op die oomblik beleef ons moeilike tye in die land. By tye is dit ook letterlik donker - beurtkrag.
Voorts is dit moeilike ekonomiese tye. Mense bring langer tye by die winkels deur, want hulle moet hul sente omdraai en goed dink voordat hulle iets koop.
Mense begin hoop verloor. Uitsigloosheid is 'n nuwe manier van lewe.
By dit alles beleef ons dinge verskillend. Ons woon op verskillende plekke en beleef die daaglikse werklikheid verskillend. Sommige aan die een kant van die N2 en ander aan die ander kant. En tog het ons baie meer in gemeen as wat ons besef. Ons is maar almal mense.
Gelukkig is daar nog 'n verligte kruis teen 'n berg, wat al is dit donker om ons, ons herinner aan hoop. Sommer hier teen die berg in George in Paasfees 2024.