Hannes Visser beskryf homself as lojaal, vreemd en gatkrapperig, maar vir my, is hy net ons pa. Ons liefdevolle, ondersteunende, wonderlike pa.
En hy verstom my elke dag… daarom was dit geen verrassing toe hy verlede jaar die nuus kry dat sy debuutdigbundel nie meer net 'n droom is nie.
'Die jaar toe pa…' is deur Naledi uitgegee en het in April vanjaar die lig gesien.
Die bundel is 'n versameling van 64 gedigte waarin hy die storie van sy grootwordjare in 'n disfunksionele huis vertel. Die jaar was 1967 en hy was 10 jaar oud.
Hoewel ek en my jonger broer, Anton, lankal van sy gedigte ken, was dit vir my spesifiek 'n emosionele ervaring om al 64 gedigte, wat chronologies op mekaar volg, saam in die bundel te lees.
Van die gedigte is rou en maak seer, ander weer lig en snaaks, maar elkeen het my beter laat verstaan waar ek vandaan kom en hoekom my pa die man, en die pa is wat hy vandag is – 'n pa wat vir sy kinders berge sal versit. 'n Pa soos geen ander!
Hannes en sy kinders, Anton en Tanya.