Hierdie tyd van die jaar, bly maar vir my die lekkerste en mooiste hier aan die kus en in die binneland. Soms warm dae, met 'n koue knyp in die oggend en laatmiddag, maar oor die algemeen matige weer. Ry jy op die N2 en op die kleiner paaie deur die Tuinroete, is die pragtige groen natuurskoon, die skoon lug met vlieswolkies en die sout reuk van die see, balsem vir die gemoed.
Die verlange na die wêreld aan die anderkant van die Swartberge, bly 'n mens egter by. Waar ons jaar na jaar nie kon wag vir die seevakansie nie, kan ek nou nie wag om weer 'n slag deur die Karoo te ry en te sien hoe die wêreld in 'n oase van groen, geel en bruin grassade ontvou met klipperige koppies uitgestrek so ver as wat die oog kan sien. Ek verlang na die oop pad oor Victoria-Wes en Britstown na Hopetown voor jy oor die Oranjerivier ry en die pad na Vaalharts wink.
'n Boer van Vaalharts
As ek so ry, verlang ek ontsaglik baie na my pa. In my vorige lewe (voor my pa se dood) het ons byna daagliks gesels. Hy was 'n boer van Vaalharts wat hartstogtelik lief was vir sy wêreld en met dié dat ek baie deur die land gereis het om saam met 'n vervaardigingspan videoproduksies te maak vir maatskappye, het ons dikwels oor die plekke en die omgewing gesels. Hy kon my altyd meer vertel van die interessanthede in die area waar ons gereis het en oral het hy iemand geken. Hy was lief vir mense, om hul stories te hoor, te gesels.
Gebore in Alheit, naby Kakamas en grootgeword in Namakwaland het hy en sy jonger broers as opgeskote jongetjies saam met Oupa Fanie en Ouma Lettie met 'n trokkie in Magogong aangekom en op hulle eie perseel begin boer. Mettertyd is daar nog grond aangekoop en twee van die broers het suksesvol daar bly boer.
Magogong is die kleinste dorpie in die Vaalhartsbesproeiingskema en het dalk 'n vreemde naam, maar vir ons was dit 'n hartsplek. 'n Onbevange grootwordplek met oop ruimtes, grondpaaie waar ons kon fietsry voor dit mode was, plaasdamme waar die slik tussen jou tone ons vinnig laat uitklim en op die growwe sementrand laat lê het. Lekker grootwordtye, onskuldig, ongekunsteld, vreesloos.
Ons anker
Vir 48 jaar was die plaas en my ouerhuis op Vaalharts my toevlug in swaar en lekker tye en die anker in my en my kinders se lewe. En al wat oorbly hoe ouer jy word en hoe meer mense doodgaan, is die verlange. En jy besef dat jou ouers met dieselfde hartseer en verliese moes worstel, maar as jong kinders was ons so verstrengel in ons eie lewens dat 'n mens nooit besef het waardeur hulle gegaan het nie.
Hoe ouer mens word, hoe meer mense vir wie jy lief was en wat jou gerig het in die lewe, word nou op gereelde reëlmaat aan die dood afgestaan. Dit is die normale gang van die lewe, maar dit is swaar. Dit voel vir my asof die verlange na dit wat was net al hoe groter word, terwyl jy steeds moet worstel en veg om vir jou nageslag te wees wat jou ouers vir jou was. Daar is 'n permanente verlange in jou hart. Die goeie tye raak al hoe minder en die verlange al hoe meer.