Omstreeks 05:30 op Vrydagoggend, 11 Augustus, het sy seun hom wakker gemaak. Die boodskap: Die taxis ry weer. Toe hulle die vorige aand gaan slaap het, was die taxistaking nog nie amptelik iets van die verlede nie en mnr. R het dus nie soos gewoonlik om 05:00 opgestaan om na die stadskern te vertrek nie, maar toe eers kort na 05:30. (Vir die doeleindes van die rubriek noem ek hom mnr. R)
Hy het opgestaan en gewas. 'n Rukkie later het hy na die plek gestap waar hy die taxi kry na die taxistaanplek in die stadskern. Soms moet hy van die taxistaanplek al die pad na sy bestemming stap. Ander kere laai die taxi hom 'n entjie nader aan sy bestemming af.
Hy stap op weeksdae na 'n plek naby die stadskern en dan gee mense vir hom kos want hy sien om na sy kleinkinders en familie. Die staatstoelaag wat hy ontvang is te min om al die gate toe te stop. Hy bedel nie.
Baie mense in die omgewing ken hom, want in die verlede het hy gesorg dat hulle tuine netjies is. Baie van die mense help hom. Hy is al 72 jaar oud en kan as gevolg van 'n besering wat hy in 'n ongeluk opgedoen het, nie meer werk nie.
Vrydag 11 Augustus, terwyl dit nog donker was, het mnr. R toe sowat 3 km gestap na die plek waar hy sit/staan. Gelukkig was dit nie koud nie.
My paaie het 'n paar maande gelede met syne gekruis. Sedertdien tel ek hom gewoonlik so 06:00 op waar die taxi hom aflaai. Dan drink ons koffie en leer van mekaar. Daarna neem ek hom na die plek waar hy sit/staan.
Ek self was die betrokke Vrydag soos gewoonlik om 06:00 by die plek waar ek hom optel, maar toe hy nie opdaag nie, het ek vermoed hy het nog nie die nuus gehoor dat die staking verby is nie. In daardie stadium het ek hom 'n paar dae laas gesien.
Die taxistaking het beteken hy kon vir 'n paar dae nie uit Thembalethu kom nie. Die afstand was net te groot om die hele pad van sy huis te loop en daar was ook veiligheidsoorwegings.
Een aand, 'n paar dae na die staking begin het, het ek hom gebel. Hulle het nog kos gehad. Hy was egter hartseer omdat hy nie kon uitkom nie.
Vroegaand Donderdag 10 Augustus was daar vyf missed calls van hom. Ek was bekommerd en het dadelik teruggebel. Hulle kos het begin min raak. Die taxis loop nie, het hy gesê.
Dit het my diep getref dat 'n gesin, nie te ver van my af nie, die aand nie genoeg kos gehad het nie. Ek het aangebied om die volgende dag vir hom kos te neem, maar hy wou niks daarvan hoor. Dit sou te gevaarlik wees.
Uiteindelik het ons ooreengekom dat ek en 'n familielid van hom die volgende dag om 14:00 op 'n plek sou ontmoet, ek sou vir hulle kos saam met die familielid stuur. Vrydagoggend omstreeks 10:45 het ek die kantoor verlaat om 'n berig te gaan doen. Ek het vir die wis en onwis verby die plek gery waar hy gewoonlik is.
En daar staan hy toe. Later het ek gehoor hoe sy seun hom vroeg die oggend wakker gemaak het met die nuus oor die taxi's.
Ek sal nooit sy gesigsuitdrukking vergeet toe hy my sien nie. Ons was beide bly om mekaar weer te sien - soos vriende wat net sowel familie kon wees.
Ek wou by hom weet of hy iets benodig. Hy was dors en wou 'n Coke hê. Ek het dit vir hom gaan koop en toe my berig gaan doen. Daarna het ek hom gaan optel. Intussen het iemand vir hom kos gebring.
Ek het by 'n winkel gestop en vir hom en sy familie nog kos gekoop. Voordat ek hom by die taxistaanplek gaan aflaai het, het ek eers 'n draai by 'n vriendin, Jackie gery. Sy het versnaperinge vir die kleinkinders gegee.
Op pad na die taxistaanplek het ons gesels. Ek het gevra hoe dit met sy gesondheid gaan en hy het vertel dat die suiglekkers wat hy suig vir sy bors en keel klaar is. Hy noem dit pille. Hy het ook verwys na bruistablette wat mens se immuunstelsels versterk en waarvan Jackie 'n tyd terug vir hom gegee het. Dit het gehelp. Volgens hom is dit soos Eno's as dit in die water gegooi word en dit maak glug-glug. Naby die taxistaanplek het ek hom gaan aflaai en hom dopgehou. Hy het swaar gedra aan die sakke kos. Hy is immers oud.
In die dae daarna het ek baie gedink aan die situasie. Ek wat so maklik kla en kwaad word vir die valsheid in vandag se wêreld.
En tog: Nog nooit het ek honger gaan slaap nie. Ja, soos met baie mense was daar al swaar tye in my lewe, maar ek kon/ kan steeds in my motor klim en gaan kos koop. Die vrede en vreugde van gee het my opnuut getref. Weliswaar klein, maar darem iets.
Die taxi's loop weer. En in Thembalethu is daar 'n gesin wat die naweek behoorlik kon eet.