MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaaiers het nog altyd 'n natuurlike aanleg gehad om goed te kan swem, veral die diepsee in. Gewoonlik glo mense jou nie as jy 'n perspektief aangaande die diepte probeer gee nie. Jy duik by die vyfers in en begin dan stadig die see in te swem.
Die water begin al kouer word, soos jy dieper die see in swem. As jy dit vir die eerste keer doen, dan is dit nogal 'n grillerige ervaring. Sien, van hierdie kranige diepseeswemmers kom uit die boonste gedeelte van Tarka.
Dis nou spesifiek van aunt Magg Muller se huis af. Ag daar was sommer hope swemmers wat die groot waters kon trotseer. Tiekie Brandt, Ron Mitchell, sy jonger broer George, Arnold Poonan, Pientie de Jager, trouens al die De Jagers kon hulle swem swem.
Groot genade
Nou laat ek eers vertel van die heel diepste waters. Hiervoor het die swemmer 'n groot hart nodig gehad, want sien oom Haai se kind was ook nog in die rondte tydens die swemmery.
Die genade was groot dat almal van hulle ongeskonde uit die see gekom het. Die Smith-broers James en Peter, Robert Gelderbloem, asook oom Nic du Plessis - hulle was almal vanuit die Bakke, maar dit was beslis nie 'n diskwalifikasie wat swem betref nie. Trouens ek het James nog onlangs met 'n boog vanaf Diasstrand na die Bakke sien swem en toe was hy al 'n man van jare.
Oom Vissie Harding het sy bynaam Vissie gekry omdat hy in die diepsee vanaf die boot moes duik om te kyk waar die vis is. Vandag word hierdie werk deur rekenaars gedoen.
Sink of swem
Oom Neville James kon net so diep swem, so ook oom Tommy Brown - gebreklike been en al. David Smith, Willempie Louw, oom Les du Plessis, Jo Kannemeyer, en natuurlik Boet Sampie. Boet was 'n breker van 'n swemmer. Volgens oorlewering het hulle pa die drie kleuterbroertjies in 'n diep sloot by name Tier se bank ingegooi en toe het hy huis toe geloop sodat hulle moes leer swem of sink.
Sampie kon ure lank in die diep water rondswem sonder om moeg te raak. Selfs toe hy al oud en sieklik was. Ek, jare jonger en gesond kon nie eens byhou nie. Ek sou later uitvind dat hy ten opsigte van hierdie swemmery, 'n bepaalde energiebeginsel toegepas het. Of hy dit doelbewus gedoen het en of dit van nature was, weet ek nie. Ek gee hom maar die voordeel van die twyfel.
Hoe dit ookal sy - lank lewe die legendariese swemmers van Mosselbaai.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'