TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - 'n Pa en dogter van Rawsonville gaan vanjaar saam aan die Trans Agulhas-rubberbootresies deelneem.
Die resies skop op 28 Desember op Plettenbergbaai af en duur tot 31 Desember wanneer dit in Gordonsbaai eindig.
'n Gedeelte van die resies vind ook in Mosselbaai se waters, op 28 Desember plaas.
Die 21-jarige Jana Neethling en haar pa, Jacques (52) het aan die begin van die jaar besluit om as pa-en-dogter-span deel te neem.
Die Trans Agulhas word as een van die moeilikste bootwedrenne ter wêreld beskryf.
Dit was Jana se droom om aan die resies deel te neem en wie kan dan 'n beter spanmaat wees as haar eie pa?
Die familie het 'n strandhuis op Struisbaai. Jana het haar nog altyd aan die resies verwonder vanwaar sy dit jaarliks uit hul strandhuis dopgehou het.
Sover bekend, is Jana tans die enigste vrou wat aan dié tawwe resies gaan deelneem.
Jana sê nadat hulle die besluit geneem het, het hulle hul toerusting, soos die boot, lewensreddersbaadjies en die bootenjin bymekaargekry en begin oefen. Sy en Jacques oefen reeds vanaf September.
"Ons het probeer om elke naweek óf in Struisbaai óf in Gordonsbaai te oefen," sê sy.
Jana sê sy en haar pa is baie opgewonde om saam aan die resies deel te neem. "Ek sien veral daarna uit om dit saam met my pa te ervaar. Dit is 'n groot eer en ons waardeer al die ondersteuning wat ons van familie en vriende kry."
Gaan pa en dogter gereeld sulke opwindende avonture saam aanpak?
Jana lag en sê: "Ons gaan dit net vanjaar doen, sodat ons iets op ons emmerlys kan afmerk."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'