MOSSELBAAI NUUS - 'n Absolute vloekskoot. Só verwys 'n plaaslike hengelaar na 'n pa en seun van Piketberg se groot vangs by Beacon Point tydens die somervakansie.
Carlo en Niel Cooper van Piketberg het gaan lyn natmaak op 23 Desember toe hulle 'n leervis van 114cm en sowat 16kg gevang het. En dít boonop met 'n basiese katrol wat hulle by die koöperasie teen R170 aangeskaf het.
Plaaslike hengelaar, Stephan Olivier, wat saam met dié pa en seun by Beacon Point was, vertel dat sý intensie juis was om leervis te vang, toe hy sien die twee het iets aan die lyn.
"Ek het gesien dis iets groots en dat hulle toerusting gaan sukkel, toe gaan help ek. Ek het vermoed dis dalk 'n haai, maar na so 45 minute se swoeg, was die leervis teen die kant."
Olivier reken wat die vangs des te meer merkwaardig maak, is dat die hengelaars tjokka as aas gebruik het, terwyl leervis slegs lewendige aas eet. Hy vermoed die vis was dalk agter iets anders aan toe hy aan die lyn beland het. Boonop het die Coopers aan Olivier vertel dat hulle voorheen nog net in Witsand vanaf 'n boot gehengel het.
"Toe ons die vis klaar gemeet en ge-tag het, het ek die twee gevra of ons asseblief die vis kan vrylaat. Hulle het ingestem en gesê dat die prestasie ten spyt, dit voel na die regte ding om te doen."
Olivier meen dat hierdie 'n baie belangrike en verantwoordelike besluit was om te neem.
"Leervisse groei baie stadig en neem jare voor hulle volwasse genoeg is om aan te teel. Ek reken die vis kan minstens 15 jaar oud wees."
Olivier het ongeveer 15 minute geneem nadat die vis in die water teruggeplaas is om seker te maak dat dit sterk genoeg is om weg te kan swem.
"Mens vergeet soms dat die vis sy álles gee en baklei om van die lyn af te kom. Hulle kan nie net teruggegooi word in die water sonder dat seker gemaak word hulle is okay nie."
Olivier meen dat dit vir hom belangrik is dat hengelaars toegerus word met kundigheid, veral ook die vrylatingsproses.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'