TUINROETE DISTRIKSNUUS - Nadat die groenlig verlede Vrydag in die Staatskoerant vir hengel gegee is, het die manne op die waters van die Eden-distrik se strande, rotse en riviere toegesak.
Goeie vangste is vanaf Gouritzmond tot en met Glentana aangeteken.
Visgerei-winkels, hul plaaslike verskaffers, oorsese verskaffers, verskaffers van aasprodukte en vele meer verwante industrieë sal baat by die verslapping van dié regulasie tydens vlak 3 van die nasionale inperking.
Die regulasie geld vir hengelaars wat in damme, riviere en in die see hengel. Hengelaars moet egter in besit wees van 'n geldige permit en moet ook al die voorgeskrewe Covid-19-regulasies nakom. Dit sluit in om nie in groepe te hengel nie, sosiale distansiëring te handhaaf, maskers te dra en die gereelde ontsmetting van hande. Huurboot-visvang (charter fishing) is egter steeds uitgesluit.
Opmerklik was die skoon strande tydens vlak 5 en 4 en hengelaars word gevra om nie die strande, riviere en damme te besoedel nie. Daar is teenstellings en verwarring oor die regulasies, veral aangesien niemand op strande toegelaat word nie, maar dat hengelaars mag gaan visvang. Hengelaars mag egter wel van bote af, van die strand en rotse af hengel. Die regulasie wat stipuleer dat daar net tussen 06:00 en 18:00 nie-kontaksport beoefen mag word, geld nie vir hengel nie. Hengel vir rekreasie val nie onder die sportregulasies nie, maar wel onder die departement van omgewing, bosbou en visserye. Nietemin is hengelaars in ekstase oor die verslapping van die regulasies.
Die hengelaar het nie die kans laat verbygaan nie om 'n lyntjie by Klein-Brakrivier strand te gaan natmaak. Foto: Jannie du Plessis
Anthony Robberts van Mosselbaai spog met 'n knewel van 'n steenbras van 66cm. Hy het ook die dag in Danabaai kolstert en stompneus gevang.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'