MOSSELBAAI HENGELNUUS - Jacques Hansen van die boot Annie Brand was Saterdag, 18 Mei behoorlik aan die brand toe hy die stokvis-derby gewen het deur die swaarste stokvis in te weeg en ook die hengelaar met die swaarste sak stokvis te wees.
'n Groot groep geesdriftige diepseehengelaars het Saterdag aan dié kompetisie, wat op kort kennisgewing deur Mike de Villiers gereël en by die Mosselbaai-waterfront aangebied is, deelgeneem.
Die manne was opgewonde vir die geleentheid om weer aktief aan die sport te kon deelneem. 'n Totaal van 13 bote met 49 hengelaars het deelgeneem. Die bote het 06:30 weggespring en lyne-op was om 14:00. Die weerstoestande was baie goed en die dag was gemaklik op die diepsee.
Toe die skale om 14:30 oopmaak was die manne reeds in 'n tou gereed om hulle vangste in te weeg. Daar was pryse vir mans, vroue en juniors wat deelgeneem het. Later die middag is daar vuur gemaak en gesellig verkeer om die braai waar stories uitgeruil was en nuwe vriende gemaak is. Die terugvoer was "doen dit gou weer" en baie positief.
Wilma van der Merwe, wenner van die vroue.
Duart Jordaan is die junior wenner.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'