Gallery
MOSSELBAAI TENNIS-NUUS - Die eerste toernooi op Eden Tennis se kalender waarmee hulle elke jaar afslaan, die Franklin-skildtoernooi, het op Saterdag, 19 Januarie plaasgevind.
Vanjaar het daar 36 vroue en 44 mans deelgeneem aan die eerste liga-afdeling, tweede liga-afdeling en 'n senior mansafdeling. Spelers van Oudtshoorn, Knysna, Plettenbergbaai, George, Klein-Brakrivier, Hartenbos en Mosselbaai se klubs het in twee spanne verdeel wat in die Noord-Suid-toernooi kragte gemeet het. Die kragmetings het in heerlike koel weer op Mosselbaai, Hoërskool Punt, Hartenbos en Klein-Brakrivier se bane plaasgevind.
Die kompetisie was sterk en gesond en die wenspan het geseëvier in 'n naelskraapoorwinning. Die Suide wen die Noorde met 34 wedstryde teenoor 32 gewen, 112 stelle vir die Suide en 105 stelle vir die Noorde.
Die eerste liga-afdeling is oortuigend deur die span van die Noorde gewen met 18 -6. Die tweede liga span van die Suide sorg toe vir 'n oorwinning van 23-13. Hier eindig die mans gelykop met 6-6 en die vroue dubbels van die Suide wen oortuigend met 9-3. Ook die gemengde dubbels van die Suide seëvier met 8-4.
Die senior mans van die Suide het hulself laat geld deur die Noorde met 5-1 te klop.
Die dag was 'n groot sukses en die gasvryheid van die verskillende tennisklubs het bygedra tot 'n heerlike bymekaarkom en saamkuier van tennisvriende.
Eerste liga-mansspan.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'