MOSSELBAAI NUUS - Ses van Hoërskool Punt se meisies is vanaf 7 tot 11 Augustus na Cradock vir deelname aan die Marilie Moolman-tennistoernooi.
Die meisies is vergesel deur mnr Paul van Tonder (afrigter) en me Mignet Smit (spanbestuurder). Dit was die 18de jaar wat hierdie toernooi aangebied is, maar dit was die eerste keer dat Punt 'n meisiespan ingeskryf het.
Daar was altesaam 16 skole van oor die land (10 seuns- en ses meisiespanne) wat aan hierdie spoggeleentheid deelgeneem het.
Die volgende meisies het Hoërskool Punt by die toernooi verteenwoordig:
Graad 8: Kayla Esselen en Mieke Theron; graad 9: Anika Otto; graad 11: Megan Leonard, Karen Theron en Minette van Zyl.
Hierdie meisies het te staan gekom teen spelers van Paarl Girls High (die wenners van die 2017 toernooi), Hoërskool Cradock; Pearson High School van Port Elizabeth; Eunice High School van Bloemfontein (die wenners van die toernooi vanaf 2010 tot 2014 en ook 2016) en Hoër Meisieskool La Rochelle van die Paarl.
Die kompetisie was baie sterk, en hoewel Punt se spelers slegs teen Cradock gewen het, kan hulle ongelooflik trots wees op die manier waarop hulle deelgeneem het.
Met elke wedstryd het hulle verbeter en hulle was baie ongelukkig om nie teen Eunice en La Rochelle te wen nie. Die meisies se veggees was prysenswaardig.
Die twee spelers wat uitgestaan het was Kayla Esselen en Mieke Theron. Beide van hulle het vier van hul vyf wedstryde (enkels) gewen en saam het hulle al vyf hulle wedstryde (dubbels) gewen.
Tydens die prysuitdeling Saterdagaand het Minette van Zyl die Marilie Moolman-trofee ontvang. Hierdie toekenning word gegee aan die speler wat die grootste impak op die toernooi gehad het. Goeie gedrag, op en van die baan af, is 'n voorvereiste asook goeie sportmangees. Hierdie toekenning simboliseer die speler wat as 'n rolmodel voorgehou kan word aan juniors in Suid-Afrika.
"Baie geluk, Minette, jy was regtig 'n ambassadeur vir Hoërskool Punt."
Minette van Zyl.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'