Gallery
TENNIS NUUS -'n Groot eer het Luhan van Niekerk, (12), 'n gr. 7-leerling van Laerskool George-Suid te beurt geval. Hy is opgeneem in die SA laerskool tennisspan wat waarskynlik later vanjaar in Amerika gaan deelneem.
Van Niekerk het van 25 tot 29 Maart aan die Interprovinsiale toernooi in Bloemfontein deelgeneem waar meegeding is in die o. 13-ouderdomsgroep.
In die toernooi het 15 provinsies/streke vanoor Suid-Afrika deelgeneem. Elke span het uit ses dogters en ses seuns bestaan. Na die toernooi is 'n SA laerskolespan gekies bestaande uit vier seuns en vier dogters op grond van prestasie by die toernooi en hul ranglysposisie.
Volgens Lizelle Fourie van Great Tennis Academy ken sy hom al baie jare. Hy word al van 6-jarige ouderdom deur afrigters by die instansie afgerig. Wat haar van die van die begin opgeval het, is sy balvaardighede en sy passie vir tennis. Wanneer hy by die baan kom kan hy nie wag om te begin speel nie.
"Hy het beslis die temperament en talent om 'n beroepspeler te word. Ons verwag dat hy dit nog ver gaan bring. Hy is een van die talentvolste spelers wat nog hier op ons pad gekom het."
Sy het haar dank teenoor Pin Point Tennis uitgespreek vir die groot rol wat hulle tot dusver in sy loopbaan gespeel het.
Luhan se ma, Luzanne, het gesê hy is baie toegewyd. Hy het die groot droom om 'n professionele tennisspeler te word. "Hy is iemand wat as hy 'n doel het, werk hy 150% daarvoor. Hy is 'n rustige mens wat nie maklik kwaad en geïrriteerd word nie."
FOTOGALERY: Groot eer vir jong sportman
Luhan van Niekerk in aksie tydens die onlangse interprovinsiale toernooi in Bloemfontein.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’