MOSSELBAAI NUUS - Die Eden-noordspan van die Eden-tennisvereniging het die 2022 kompetisie om die Franklinskild gewen toe hy Eden Suid op Saterdag, 5 Februarie met 37 -26 gewen het.
Die toernooi is op die bane van die Mosselbaai, Hartenbos en Klein-Brakrivier-tennisklubs gehou met 76 spelers wat vanjaar deelgeneem het.
In die stryd tussen die eersteligaspanne het die noorde se mansspan met 4-2 gewen terwyl die vroue van die suide met 'n enkele stel gewen het nadat die wedstrydtelling 12-12 was.
In die afdeling vir tweedeligaspelers het die span van die noorde 'n oortuigende oorwinning van 19-5 behaal terwyl die vroue ook koning gekraai het.
In die afdeling vir senior mans (spelers ouer as 70 jaar) was die span van die suide heeltemal te sterk vir die noorde met 'n oorwinning van 6-2.
Die Franklinskild kompetisie is 'n jaarlikse geleentheid wat gewoonlik vir 'n dag se kompeterende tennis sorg.
Die skild is jare gelede geskenk deur 'n tennisliefhebber, ene mnr Franklin van Herold, met die voorstel dat twee saamgestelde spanne van die streek daarvoor speel.
Spelers van die Wesbank-, Hartenbos- en George-tennisklubs het vir die span van die noorde gespeel en spelers van Mosselbaai, Knysna, Plettenbergbaai en Klein-Brakrivier vir die suide.
Die voorsitter van Eden Tennis, Debra Hyde, het die spelers vir hul opoffering bedank, asook die tennisklubs wat hul geriewe beskikbaar gestel het.
Eden-noord se eersteliga tennisspelers.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'