TUINROETE NUUS - Die kennis en ervaring wat die oud-Springbok Zane Kirchner (37) op die hoogste vlak opgedoen het, is nou tot die beskikking van die SWD Arende.
Kirchner is nou deel van Anton Moolman, die nuwe hoofafrigter, se afrigting- en bestuurspan en het reeds as agterspelerafrigter met sy verantwoordelikhede begin.
Kirchner het in 2019 na Suid-Afrika teruggekeer en hy en sy vrou, Tasneem en hul dogtertjie, Ama-Mira woon in George.
Rugbyloopbaan
Kirchner kom oorspronklik van George en was destyds by PW Botha-kollege (deesdae Eden HTS) op skool. Hy was net 17 jaar oud toe hy sy ouerhuis verlaat het om in 'n ander provinsie te gaan rugby speel. Hy het nooit vir die SWD Arende op provinsiale vlak gespeel nie, maar wel die provinsie by Cravenweek verteenwoordig.
Deur die jare het hy onder meer vir Griekwas, die Bulls en die Blou Bulle in die Curriebekerreeks uitgedraf.
Vir Griekwas meer as 50 keer en vir die Blou Bulle 64 keer. Hy het destyds 64 punte vir die Blou Bulle aangeteken. Vir die Bulls het hy meer as 80 keer gespeel en 105 punte aangeteken.
In 2009 was hy deel van die span wat die Curriebeker gewen het en in 2009 en 2010 van die spanne wat die Super Rugby-titel gewen het. Hy het as heelagter, vleuel en senter uitgedraf.
Hy het 32 keer die groen en goud gedra en in 'n stadium het hy ook in Ierland rugby gespeel.
Kirchner het Maandag gesê rugby is ’n baie groot deel van wie hy is. Dit het vir hom baie geleenthede gegee. Oor sy nuwe betrokkenheid by die Arende het hy gesê: "Dit is net 'n voorreg om iets terug te gee vir iets waarvoor ek lief is en baie geniet."
Afrigting
Afrigting is nie nuut vir hom nie. Hy was in 2017 in Wallis betrokke by afrigting in die A-liga (o.23's).
Hy glo SWD het die spelers om goed te doen. In die volgende weke sal die strukture in plek gestel word.
Komende wedstryde
Die Arende speel op 5 Maart in Swellendam teen Boland in hul eerste opwarmingswedstryd van die seisoen en op 12 Maart 'n opwarmingswedstryd teen OP Olifante. Die span speel sy eerste ligawedstryd van die seisoen die eerste naweek van April.
Aanstaande Donderdag, 24 Februarie, is daar 'n proefwedstryd.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'