RUGBY NUUS - As daar nog 'n sprankie hoop was dat Barbarians se rugbyspan sy aanspraak kon behou in Afdeling A van die Suidwestelike Distrikte (SWD) se klubliga, is daardie vonk die afgelope Saterdag op D'Almeida Park deur die besoekende span van Bridgton finaal geblus.
Die besoekers was met 30-22 baas in, wat selfs met die nederlaag, nogal talle hoogtepunte opgelewer het.
Vir die tuisspan kon dinge soveel anders verloop het. By twee geleenthede het die skeidsregter beslis dat Babaas nie drieë gedruk het nie.
Dit kon die hele gang van die wedstryd verander het, maar dit het nie gebeur nie. Die besoekers van Oudtshoorn het egter elke geleentheid aangegryp en met aggressiewe inklimspel die tuisspan op die agtervoet gehou.
Terwyl Barbarians veral in die vaste los sy man gestaan het, was daar weer, soos soveel kere dié seisoen, 'n gebrek aan afronding wat die Babaas lelik in die steek gelaat het. Daar was egter tye dat dinge taamlik vlot verloop het en dit is waarop die Mosselbaaiers sal wil voortbou in hul oorblywende ligawedstryde.
Die tuisspan se 2de en 3de spanne is egter steeds op koers om die uitspeelrondes te haal na oorwinnings met 30-20 en 18-17 onderskeidelik.
Barbarians reis môre na Pacaltsdorp waar Evergreens op hulle wag.
Groot-Brakrivier
In van die ander klubwedstryde was dit die huidige kampioenspan, Crusaders, wat klippe gekou het om Groot-Brakrivier met 39-31 baas te raak. Die Brakkies was met die rustyd met 17-10 nog in beheer, maar soos dit 'n kampioen betaam het Crusaders teruggeveg om uiteindelik die maksimum aantal punte te verdien. Crusaders het met dié oorwinning gewys dat hulle nie maklik van hul titel afstand sal doen nie.
Op Heidelberg het Evergreens mekaar ook met mag en mening aangedurf, maar dit was die tuisspan, wat uiteindelik met 32-16 baas was. Evergreens het sonder sewe van sy gereelde spelers na Heidelberg gereis, maar het dit nie as verskoning gebruik nie. Hulle het van die begin geweet dit sal geen maklike taak wees nie. Heidelberg behou met dieoorwinning steeds sy aanspraak om vir uitspeelrondes te kwalifiseer.
In die wedstryd tussen Progress en George op Outeniqua Park, was dit Progress wat George se gebrek aan oorheersing in die vaste fasette uitgebuit het en is ná die eerste 40 minute met 24-3 in beheer. George het daarna teruggekom met twee goeie drieë, maar Progress het dieselfde gedoen om dié wedstryd uiteindelik met 38-17 te wen.
Die groot verskil in die wedstryd tussen Blanco en die Maories, was die individuele vertoning van Darren Fortuin, buitesenter, wat nie net met sy geweldige skopvoet beïndruk het nie, maar ook die Maories telkens verras het wanneer hy met sy bedrieglike spoed op loop gegaan het. Blanco was met 45-20 baas in dié stryd.
Die arme Jaguars is ná Saterdag se nederlaag met 14-20 teen Riversdal Blues, nog 'n treetjie nader daaraan om sy seggenskap in die Premierliga te verloor. Blues, wat ook nie te gemaklik moet voel nie, kon darem dié een deurtrek om beter asem te kan haal met die oog op die laaste gedeelte van die seisoen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’