MOSSELBAAI NUUS - Die vraag op almal se lippe: “Wie gaan vanjaar as die klubkampioene in die SWD Premierliga gekroon word?”
Daar is egter eers nog ’n paar wedstryde, en vir nou moet daar eers vir ’n plek in die top agt gespeel word.
Op sosiale media gons dit behoorlik onder rugbygeesdriftiges in die aanloop tot die Premierliga se afskop hierdie komende Saterdag.
Groot-Brakrivier en Heidelberg het verlede jaar geskiedenis gemaak toe hulle vir die tweede keer in die finaal (2023 en 2024) kragte gemeet het. Die Brakkies het in 2023 met die louere weggestap, terwyl die twee klubs verlede jaar die beker moes deel ná ’n gelykopuitslag in die uitklopronde.
Kan hulle vir ’n derde agtereenvolgende jaar na die finaal deurdring? Betroubare bronne ná aan die twee klubs is dit eens; hulle sien uit na ’n goeie 2025-seisoen en wil dit graag weer op ’n hoogtepunt afsluit.
Blanco en Bridgton, daarteenoor, wat in verlede jaar se semifinale onderskeidelik teen Groot-Brakrivier en Heidelberg verloor het, is beslis die ander aanspraakmakers. Beide spanne het die Brakkies en Heidelberg verlede jaar harde bene vir hul oorwinnings laat kou.
Progress van George en die Barbarians is die ander twee klubs wat nie afgeskryf moet word nie. Die Barbarians, wat verlede jaar in die eerste ronde bo aan die punteleer geëindig het, kon nie die semifinale haal nie. Hulle voorbereiding onder ’n nuwe afrigtingkorps het egter ’n Barbarians-span van ’n ander kleur vorendag gebring.
Progress, met wie hulle kragte meet in hul eerste ligaverpligtinge in Rosemore, is gewis ook ’n aanspraakmaker vir die uitspeelrondes.
Dan is daar die eens hoogaangeskrewe Crusaders van George en die Evergreens van Pacaltsdorp, albei voormalige SWD-kampioenspanne, wat nie onderskat moet word nie.
Saam met hulle is die twee nuwelingklubs, Riversdal Blues en die Seagulls van Stilbaai, wat dalk teen die groot kanonne kan verras.
Die tafel is gedek vir ’n skouspel van klubrugby vir die volgende ses maande - mag die beste span wen!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’