MOSSELBAAI NUUS - Die telling 71-20 in die guns van Heidelberg op D'Almeida Park is behoorlik soos "the talk of the town".
Hierdie wegholoorwinning het uiteenlopende reaksie ontlok by sekere jarelange en stoere ondersteuners van Barbarians-rugbyklub.
Die tuisspan wat hierdie jaar sy 30ste bestaansjaar vier is met die rug teen die muur. Dis ook die eerste keer sedert die ontstaan van Babaas dat hulle met so 'n groot punteverskil, naamlik 51 punte op eie bodem verloor.
Heidelberg wat nege keer agter die doellyn gaan kuier het teenoor Barbarians se drie keer, is beslis een van die gunsteling rugbyklubs om hierdie jaar die gesogte SWD-trofee om hoog te hou.
Hulle het die tuisspan vanaf die afskop op die agtervoet gehad. Met hul aanvallende spel en goeie balretensie was hulle onkeerbaar.
Barbarians daarenteen was planloos. Swak dissipline wat aanleiding gegee het tot 'n rooi kaart reeds in die eerste 10 minute van die wedstryd en later twee geelkaarte, het hulle die wedstryd gekos.
Daar was egter ook 'n paar ligpunte aan die kant van Barbarians in hierdie wegholoorwinning. Voorlangs het hulle by tye Heidelberg op hul agtervoet gehad met goeie skrumwerk en rolmaalbewegings. Die agterlyn met net ses man agter, kon egter nie met hierdie goeie balbesit deur die besoekers se rotsvaste verdediging nie.
Heidelberg daarenteen, het agter en voor met aanskoulike hardlooprugby Barbarians strykdeur op die agtervoet gehad.
As is verbrande hout, soos die gesegde lui.
Indien 'n fikser en 'n meer gedisiplineerde Barbarians opgedaag het, sou dit enigsins 'n verskil gemaak het? Net gesoute rugbykenners sal weet. Terug by die wedstryd. Dit sal verkeerd wees om 'n speler van die wedstryd aan te wys in die wenspan.
Heidelberg se 15-tal tesame met hul reserwes wat speelkans gekry het, het as eenheid 'n duidelike boodskap uitgestuur na die ander klubs in SWD.
Barbarians het nie nodig om in sak en as te gaan sit nie. Met so baie jong rugbytalent in hul geledere wink daar 'n goeie toekoms vir die klub.
Ander uitslae
- B-spanne: Barbarians 9 - Heidelberg 13
- C-spanne: Barbarians 26 - Heidelberg 7.
Vuurvreterflank van Heidelberg met 'n sterk stormlopie.REGS: 'n Heidelbergspeler op die aanval met twee Barbarians wat hom probeer plattrek. Foto's: Heinrich Photography
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'