RUGBY NUUS - Dit was asof die oomblik te groot was vir van die jonger spelers in die rugbyspan van die Suidwestelike Distrikte (SWD) en swak verdediging het daartoe gelei dat die Valke die Arende die afgelope Saterdag in die Barnard Stadion in Kempton Park met 55-38 in die eindstryd van die Mzansi-uitdaagtoernooi gelooi het.
Vir Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, was sy span se verdediging vir hom die grootste teleurstelling.
"Ons het nie net op die verdediging droog gemaak nie, maar onnodige foute het ook tot hopeloos te veel strafskoppe teen ons getel. Ons het doodeenvoudig net nie opgedaag vir dié wedstryd nie," het hy gesê.
Moolman sê, ofskoon teleurgesteld, kan hy ook nie hard op die spelers wees nie. "Ons het as 'n groep jong spelers 'n eindstryd gehaal en waar ons aan die begin van die seisoen nog rou en onervare was, het ons geweldig gegroei. Dit is van die pluspunte waarop ek trots is, maar 'n mens kon die verskil duidelik sien in die twee spanne se benadering op die dag.
"Waar ons uit ons diepte was en tekort geskiet het aan ondervinding, was die rustigheid waarmee die Valke ons tot foute gedwing het 'n duidelike weerspieëling van 'n span wat reeds 'n paar seisoene met mekaar saamwerk. Met ons seisoen nou op 'n einde, moet ons van vooraf begin kyk na spelers vir die volgende seisoen en dit is nie die ideale posisie om in te wees nie.
"Soos sake nou staan sal van ons kleiner plattelandse spanne nooit regtig 'n kern kan opbou nie omdat ons nie kontrakte kan uitreik vir 'n volle twaalf maande nie. Ons kontrakte met spelers geld net vir agt maande en dit maak dit ontsettend moeilik om volhoubaar te wees," het hy gesê.
Leemte te vul
Dit het reeds 'n negatiewe invloed op die span met die nuus dat die Arende se losskakel en een van hul staatmakers vanjaar, Ädriaan van der Bank, 'n kontrak met 'n Franse klub gesluit het.
"Dit is 'n sleutelposisie in enige span en nou moet ek weer van nuuts af gaan soek om dié leemte te vul. 'n Mens kan die spelers ook nie verkwalik as hulle groener weivelde gaan soek nie. Om vir 'n volle jaar gekontrakteer te wees gee mos baie meer standvastigheid as om net vir agt maande 'n inkomste te verdien," het hy gesê.
Met die SWD se plaaslike klubliga, wat eers in Oktober voltooi sal word, gaan dit aan Moolman en sy bestuurspan die geleentheid bied om ook op dié vlak na talent te gaan kyk. "Met die provinsiale verpligtinge agter die rug, bied dit ons die ideale geleentheid om ook op klubvlak spelers in aksie te sien, wat ons kan optrek na die senior geledere," het hy gesê.
Met 'n vriendskaplike wedstryd op 6 Oktober teen die Stormers op Outeniqua Park, is dit uiters belangrik dat die Arende sal moet raakvat met die oog op die volgende seisoen.
"Ons 2023 provinsiale seisoen het die afgelope Saterdag teen die Valke geëindig. Nie die uitslag wat ons wou gehad het nie, maar alle eer aan hulle. Die Valke het hul kanse ten volle benut," het hy gesê.
Puntemakers:
Valke 55 (31): Drieë: Musa Tshabalala, Luciano Elias, Valentino Wellman, Mihlali Stamper, Thabo Ntunja, Easton Arendse; Doelskoppe: Keagan Fortune (5); Strafdoele: Fortune (5).
Arende 38 (14): Drieë: Rosco Syster (2), Steph Leonard (2), Janneman Stander, Mpho Ntsane; Doelskoppe: Mario Weich (4).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’