MOSSELBAAI RUGBY NUUS - In 1971 tydens die Rhodes-toernooi in Kaapstad is hy as een van die beste heelagters beskryf.
Die buksieheelagter, Harry James, wat sy buiging op ‘n jeugdige ouderdom vir Mosselbaai Klub gemaak het, was tydens sy rugbyloopbaan as "Die Hek” bekend.
Rugbykenners uit sy era was dit eens, nasionale kleure het vir hom gewink by hierdie gewilde jaarlikse Rhodes-rugbytoernooi, maar ongelukkig was dit hom nie beskore nie. James was ‘n gereelde gesig in die SWD-span en sy posisionele spel op heelagter was altyd ‘n lus vir die oog.
Met veilige hande en kragtige, torpedoskoppe het hy gereeld sy opponente van sy doellyn af weggehou, vandaar die bynaam, “Die Hek”.
Saam met hom by hierdie toernooi, was Andrew Grootboom oorspronklik van Oudtshoorn wat sy rugbyloopbaan by Mosselbaai Klub voortgesit het. Tollie, soos hy bekend was, se insluiting in die SWD-span in 1971, kon egter nie op ‘n beter tyd gekom het nie.
Rugbykenners was vol lof vir sy klassieke en aanvallende speelstyl in die middelveld. Sy oog vir ‘n gaping, balverspreiding en rotsvaste verdediging het van hom gedurende die toernooi, die mees uitstaande agterlynspeler gemaak. Na afloop van die toernooi, was Grootboom vereer met nasionale kleure.
Terug by Harry James. In 1981, 10 jaar later as veteraan, is hy kaptein van Mosselbaai Klub in ‘n finaal teen Oaks van Swellendam op Pacaltsdorp, om mee te ding om die NCCR-trofee te verower.
Oaks wat as die gunstelingspan op die veld gedraf het, het teen ‘n begeesterde vyftiental van die Mosselbaai Klub te staan gekom. Hierdie titaniese stryd is gewen deur Mosselbaai Klub - ‘n span met 'n mengsel van ervaring en jeug.
Saam met Harry James in hierdie kampioenspan, was Glen du Plessis, Allen Pickering (vleuels), Julian James (senter), Amos Manie (losskakel), Mike Jones (skrumskakel) en Abdon Kannemeyer (stut), almal veterane. Jonger spelers wat deel was van hierdie wenspan, sou nog later groot opgang maak in hul rugbyloopbane.
In Leonard Bruintjies (agsteman), George Habelgaarn (stut\\slot) Lance Petersen, Densil Prins (slotte), Derick Hendricks (flank), Joey Bavuma (haker) en Richard Prins (stut) het Mosselbaai Klub groot potensiaal gehad.
Twee rugby legendes in aksie gedurende die Rhodes-toernooi, 1971. Andrew Grootboom (12) en David Smith met die skrumpet.
* Lees in 'n volgende uitgawe meer oor die Young Blues se rugbyhelde.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'